“Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte
wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.” – Romeine 7:19
Met die eerste oogopslag lyk dit asof Paulus homself hier
weerspreek. Net in die vorige hoofstuk in Romeine 6:11
het hy gesê: “Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir
die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is
met Christus.” Ons is “dood” vir die sonde!
Wat bedoel hy dan nou met bogenoemde vers 19?
Nou sê hy dat hy verlos is, maar in hom is daar ‘n geestelike
stryd tussen goed en kwaad. Hy sê nou daar is twee Paulusse:
Die een is in die Gees gebonde aan Christus en die ander
gebonde aan die wet wat hy juis oortree deur te doen wat
hy haat.
Hierdie is die mistieke stryd van eenwording met Christus.
Dit is die stryd om suiwering van die reste van die vleeslike
wet en sonde wat nog in ons bewuste en onderbewuste skuil.
Hierdie reiniging is steeds die werk van God in “Jesus Christus
ons Here” – verse 24-25.
Ons word al hoe meer bewus van elemente in ons eie bestaan
wat nie met Christus te rym is nie. Dit is die werk van God deur
die Gees in ons. Christus is volmaak! Ons word in beginsel soos
Hy, maar ons sal nog onvolmaak bly tot die nuwe bedeling.
Wie van ons wat reeds kinders van die Here is kan nie getuig
van hierdie reiniging en groeiproses nie!? Dit is die tweespalt
wat Paulus, en ook ons, so irriteer. Saam met Paulus wil ook
ons hiervan ontslae wees. Dit bly ‘n proses.
Dink aan die voorbeeld van ‘n terapeut wat ‘n pasiënt help
wat op pad is na emosionele gesondheid. Jy word steeds
gekonfronteer met die onaangename oorblyfsels in jou
gemoed op pad na suiwering.
Die wonderlike is: Ons kry dit reg. God doen dit in ons!
Aan God die dank, sê Paulus. In Jesus Christus neem God oor
en die “sondige” ek word gesuiwer deur hierdie konfrontasie.
Dit is die mistieke groei in Christus. Paulus se belydenis van
sy stryd help ons ook om vrede met God te beleef.
Ons gaan deur dieselfde stryd. Jy dink dit is net jy wat so met
die sonde worstel... nou ontdek jy ook Paulus worstel in sy
binnelewe hiermee.
Volg daarom ook Paulus se raad as hy vasgryp aan die
verlossing van Jesus Christus. Christus het vir al jou
wetsoortredings betaal. Ook die wat jy nog sal doen.
Jy is volledig in Christus, vry van die wet!
Ernest