“Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge?
Dít: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?” –
Romeine 8:31.
Maarskalk Bernadotte, stigter van die huidige Sweedse vorstehuis,
het sy bondgenote gewaarsku: “Bloot Napoleon se teenwoordigheid
op die slagveld is ‘n honderdduisend man werd!” Maar ons weet,
in die oorloë van die Ou Testament het die blote Teenwoordigheid
van God of sy gevegs-engel die vyand in patetiese haas laat vlug.
Niemand kan teen God veg nie. Nie miljoene soldate nie, en nie
duisende “kenners” wat wil besluit oor sy bestaan nie.
Hulle kan probeer – en hulle doen dit – om God uit sy skepping
uit te vee. Op die ou end spoel hulle met die stroom van die tyd oor
die waterval van die ewigheid. God skyn voort, soos die son wat Hy
geskep het, in sy krag!
God het baie vyande. God het ook baie kinders. God het baie wat
vir Hom wil voorskryf. God het ook baie wat by Hom skuiling soek,
by Hom alleen. God het baie lasteraars. Maar God het ook baie
getuies.
Paulus het met hierdie woorde – “God is vír ons, wie kan dan
teen ons wees?” – soos ‘n eenman-leër die destydse bekende
wêreld deurkruis met die geloof: “Christus is die Here!”
Hulle het hom in die tronk gestop en met klippe gegooi.
Hulle het hom uitgelag en met die kats geslaan. Hy het voor
howe en owerstes gestaan. Alles sonder ‘n teken van vrees!
God was met hom, en hy was onstuitbaar.
In dit alles was God en die innerlike sekerheid van Paulus dat
niks God kan keer nie. Ons sal wys wees om ons lewe volgens
hierdie waarheid in te rig en voluit te leef! Hierdie onstuitbare
God maak ons onstuitbaar. Veilig. Vol durf. Onvernietigbaar,
want in Hom leef ons vir altyd!
Ernest