Hoe anders is ons nie!
Filippense 3:20-21:
“Hoe anders is ons nie!
Wat vir ons saak maak , is die hemelse dinge.
Daar lê ons ware vaderland.
Uit daardie vaderland sal ons Redder kom.
Uit die hemel verwag ons ons Here, Jesus Christus.
Hy gaan ons swak menslike liggaam verander.
Hy gaan ons liggaam nuut maak,
soos sy liggaam is na sy opstanding, verhewe en heerlik.
Hy sal dit doen omdat Hy baie sterk is,
want sy krag oortref alle ander krag.
Wat Hy wil, dit kan Hy doen.”
Die vroeë kerk het soos ‘n familie gefunksioneer.
‘n Geloofsgemeenskap met baie sterk bande.
Hulle het nie soseer uitgegaan om te evangeliseer nie,
om met mense te gaan praat om hulle na die Here te lei nie.
Maar daar was ‘n merkwaardige getuieniskrag wat uit hulle uitgegaan het.
Bloot deur die manier hoe hulle met mekaar saam geleef het.
Hulle was nie selfsugtig nie, maar op mekaar gerig.
Hulle het hul liefde vir mekaar sigbaar uitgeleef.
Daarom dat Paulus uitroep: “Hoe anders is ons nie!”
Paulus sê wat vir ons saakmaak, is die hemelse dinge.
En dit moet jy as’t ware nou laat grondvat by die mense rondom jou,
deur jou manier van lewe.
Jy moet dit nou reeds ‘n stukkie hemel op aarde maak,
vir almal wat jy mee te doen kry.
Jou lewe trek ander na die Here toe, of lei hulle weg.
Mens kan nie neutraal leef ten opsigte van die koninkryk van God nie.
Jy maak saam met die Here die skape bymekaar,
of jy jaag hulle uitmekaar.
Jou lewe vertel in watter rigting jy beweeg.
Iemand het humoristies opgemerk:
As jy nie gereeld in die duiwel vashardloop nie,
is dit dalk omdat julle twee in dieselfde rigting hardloop.
Hoe anders is ons nie!
Leef jou andersheid in hierdie wêreld uit.
Leef vir die koninkryk van God!
Maak dit hemel op aarde!
Ernest