“Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom.” –
Spreuke 16:33.

Ons hoor dikwels dat mense ook met ‘n sin vir humor sê:
“As ek die lotery wen sal ek...” Daar is egter ook baie mense
wat die lotery speel asof hulle lewenskwaliteit daarvan afhang.
Hulle wag dan met “hoop” op ‘n wen om dit of dat aan hulle
lewe te verander. Mense dink dikwels daar is “maklike”
oplossings vir ‘n “moeilike” lewe, en dat dit slegs ‘n kwessie
is van hoe die dobbelstene val. Hulle reken die lewe is soos
‘n maaltyd met min van alles. Min keuses. Min van alles.
Te min vleis, te min sout, te smaakloos, sonder nagereg.
Net eenvoudig te min op jou bord. Hulle hoop dat die geluk
sal draai wanneer hulle loot.
Sommige blameer selfs God vir hulle “lot”.
Die digter Adam Small verwoord dit so: “Die Djere het
gaskommel en die dice het vir ons verkeerd geval,
dis ma’ al”. Dié verwyt is bekend, maar onsin.

Ons het twee groot werklikhede wat ons met 100% vertroue
kan “speel”. Geloof en hoop! Hulle is eintlik verwant. Gebruik
hierdie “kaarte” in gebed en in alle nederige afhanklikheid van
God, en jy kry die grootste prys uit genade: Jy “kry” God!
Want Hy hoor wanneer Hy aangeroep word in waarheid,
en Hy reageer op waarheid! En dan kry jy alles, en bo alles
die léwe! Dan kan jy in sy Naam die lewe lééf!
Om in God en met God te wees, om in sy besluit en genade te leef,
is vrede en vertroosting in die moeilikste van die lewe. Jy is dan
nooit ooit aan jou eie “lot” oorgelaat nie. Wie dien jy eintlik deur
lotery en jou eie lot te probeer bepaal? Eintlik dien jy net jouself...

Einstein het gesê: “God does not play dice with the universe”.
God werp ook nie die lot oor jou nie. Hy het opgeoffer vir jou.
Sy Seun aan die kruis. God gee alles. Hy laat Hom nie bespot met
speletjies nie. Maar Hy bespot jou ook verseker nie.
Veral nie jou opregte gebede in waarheid nie.
God gee lewe, en dít in oorvloed!

Ernest