Ons sê dikwels speels: “Nie môre nie, vandag is die dag!”
Spreuke 27:1 sê: “Moenie roem oor wat jy môre verwag nie.”
Die waarskuwing lê waarskynlik in die woord “roem”. Moenie
roem nie, want jy is nie verseker daarvan nie. Tyd kan so
wispelturig wees as wat ons elektrisiteit tans is. Hoe gaan
“beurtkrag” môre en in die res van die week lyk?

Ons is inwoners van tyd, al is ons van ewige oorsprong.
Hierdie spreuk wil ons een van die groot lesse leer:
Tyd is ‘n kosbare besitting terwyl jy dit “het”. Gebruik dit
met wysheid! Gebruik dit vandag, terwyl jy dit “het”, terwyl
jy lééf! Môre kan omstandighede en die tyd totaal anders lyk.

Ons weet dat daar tye is dat ons as’t ware as toeskouers buite
grootse gebeure staan. Ons het geen beheer daaroor nie, en
ons begryp dit nie. Maar dit is ingrypend en dit alles bepaal ons
“môre” en of daar hoegenaamd ‘n “môre” gaan wees.
Jesaja sê God woon in ‘n “hoë, heilige plek”, ewig, maar ons
wéét Hy beweeg ook in tyd. In Christus het ons die heel beste
voorbeeld en bewys daarvan. In Christus het God in die
“kairos”-tyd die kruis op aarde geplant en in Christus kry ons
die boodskap van waaroor dit in die ewigheid gaan.
Waaroor God gaan. En waaroor dit ook met óns gaan!

Máár, dit is onmoontlik om tyd hier op aarde vooraf uit te pen,
asof dit óns tyd is, en doodseker te wees dit is presies hoe dit
sal gaan. Tog is ons deel van tyd, en leef ons in tyd, en kom die
waarskuwing in bogenoemde spreuk van wysheid baie duidelik:
Gaan biddend met tyd om, gaan gelowig met tyd om, gaan
versigtig met tyd om. Leef in die tyd in die teenwoordigheid
van God!

In plaas van ons op “môre” te verlaat, en te roem oor wat jy
“môre verwag”, is dit beter om hierdie dag te gebruik en
hierdie dag te lééf, tot eer van God, as sy verteenwoordiger,
in hierdie tyd!

Ernest