“Daar is drie dinge, nee, vier wat bo my begrip is,
wat ek nie verstaan nie: hoe ‘ aasvoël in die lug bly,
hoe ‘n slang teen ‘n rots op seil, hoe ‘n skip op die diepsee
vaar, en hoe die liefde tussen ‘n man en ‘n meisie werk.”
– Spreuke 30:18-19.
Vandag sou mens natuurlik hierdie dinge baie makliker verklaar
na al die ontwikkeling in die natuurwetenskap. Ons sal dit
“wetenskaplik” kon verklaar, met ons teorieë van lugdruk en
windstrome, en die wette van “buoyancy” of dryfkrag, wat
voorwerpe laat dryf, soos ‘n skip op die diepsee, en die verstaan
van hormone en testosteroon, oor hoe die liefde tussen ‘n man
en ‘n meisie werk. Dalk het die spreuke-digter ook baie meer van
die “tegniek” van die dinge verstaan as wat hy te kenne gee,
maar dat hy in verwondering dit waardeer.
Hoeveel dinge wat ons vandag verstaan laat ons nie steeds in
verwondering staan nie! Ons kan logies sê water is H2O, naamlik
twee atome waterstof en een atoom suurstof. Maar dit verklaar
nie die skoonheid en belewenis van ‘n stil rivier in ‘n woud nie.
Ons sal tog nie daaroor sê: “O, dit is maar net H2O wat deur
plantaardige materiaal beweeg met ‘n oormaat chlorofiel
daarin” nie.
Baie van dit wat ons in die skepping sien en verstaan het nog
‘n onbekende hoeveelheid dimensies, en ons staan net in
verwondering. Wanneer ons klaar oor testosteroon en hormone
gepraat het, sukkel ons steeds om te verstaan dat die emosionele
“chemie” tussen ‘n sekere man en vrou werk, en nie tussen hulle
en ander “werk” nie. Dit is die misterie van die liefde tussen man
en vrou, wat oor soveel meer gaan as voortplanting van die
menslike ras. Oor baie dinge veronderstel ons en ons raai.
Robert Frost sê: “We dance around in a ring and suppose,
but the Secret sits in the middle and knows.” Dit is iets wat
die spreuke-digter al uitgevind het. Hy weet, en hy staan
verwonderd, oor die Een in die middel.
Verder toegepas in ons lewe: ‘n Mens wonder of die Fariseërs
ooit na die veldlelies gekyk het, en God daarin gesien het?
Of moes Jesus hulle eers daarop kom wys? En, hét hulle toe
verstaan? Gesien! En óns?
‘n Mens kan in vervoering staan en kyk na die beroemde
gebrandskilderde vensters in ‘n eeue oue katedraal. Jy het ‘n
idee van hoe dit gemaak is, maar het jy enige idee van die
inspirasie daaragter? Die Inspirasie met ‘n hoofletter. God.
Toe Jesus na die lelies en die mossies en die gras gekyk het,
het Hy Hom mistiek daaraan verlustig en verwonder.
Ons sal baie nader aan God kom as ons, soos die spreuke-digter,
ons verwonder, met dankbaarheid verwonder, aan die Skepper,
God. Ons weet só baie, dink ons, en tog net soveel soos hierdie
skrywer... wat hom verwonder aan die handewerk van God.
Ernest