“Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.
Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”
– Romeine 13:10.
Die Christene in Rome, aan wie Paulus hier skryf, was seker
al goed bekend of bewus van die “Sjema Jisjrael” van
Deuteronomium 6:4: “Luister, Israel, die Here ons God,
Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God
liefhê met hart en siel, met al jou krag.”
God se wet is tradisioneel met moets en moenies oorgedra.
Dit lê reëls neer vir maatskaplike orde, respek en aanbidding
in ‘n woeste omgewing. Máár, het Jesus gesê, God se wet berus
op die liefde vir God en liefde vir jou naaste. Dit is waar die
swaartepunt lê van God se liefde. Dit is waaroor dit gaan.
Dit is waar die swaartepunt lê vir hoe alles, God en skepping,
in mekaar steek. En, menslik gesproke, hoe God se hart werk.
Inderdaad: God ís liefde! 1 Johannes 4:8 sê: “Wie nie liefhet nie,
het geen kennis van God nie, want God is liefde.” Dit is sy wese.
En vanuit hierdie groot waarheid loop die liefde soos ‘n
swaartekrag deur alles wat God onderneem. En ons is
draers en geleiers van hierdie “swaartekrag”.
Moet nie aan jou naaste kwaad doen nie, sê God, want as jy
dit doen, peuter jy met die inherente multidimensionele
“wet van die swaartekrag” van die skepping. Weerhou jou liefde,
en dit kom daarop neer dat jy uit die hoogste verdieping van ‘n
baie hoë gebou probeer loop. As jy jou nie bedink nie, kan dieselfde
behoudende swaartekrag jou dood kos. Maar beoefen die liefde tot
God en déúr die naaste tot God, en jy kan in die hoogste verdiepings
van die menslike gees beweeg sonder vrees.
“Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet,
bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome berei.”
Dáárom is die liefde “die volle uitvoering van die wet” sê Paulus in
Romeine 13:10. En Johannes stem saam en stel dit selfs sterker:
“...Wie nie liefhet nie, bly in die dood.” – 1 Johannes 3:14.
Ons lewe in God. Ons lewe in Christus, en dan bid ons dat die
liefde van God ons gedurig deursuur tot liefde as lewens-noodsaaklik!
Lewens-noodsaaklik! Sonder liefde vir God en jou naaste... is jy dood.
Ernest