Filippense 4:4 sê:
“Wees altyd bly in die Here!
Ek herhaal: Wees bly!”

Dat Paulus sê: “…Ek herhaal: Wees bly!”,
het iemand laat opmerk:
“Celebrate the Lord, 24/7.
I’ll copy and paste that – this time in bold:
Celebrate the Lord!”

Die Boodskap vertaal dit:
“Julle hart behoort oor te loop van blydskap,
omdat julle aan die Here behoort.
Ek sê weer, julle moet baie bly wees.”

Vreugde is die onfeilbaarste teken van God se teenwoordigheid.
Om jou in die Here te verbly is om te weet,
waar jy ookal is, wat jou omstandighede ookal is,
jy kan jou verbly, want die Here is naby!

Blydskap is iets wat na jou toe kom,
as jy met jou lewe na God toe gaan!
JK Gresset het gesê:
“Sedert ek Jesus Christus ontmoet het,
voel dit of ek sonskyn gesluk het.”

Hartseer sal altyd, in die een of ander vorm, deel van ons lewe wees.
Maar, in Christus, sal ons ook nooit sonder blydskap wees nie.
Hierdie wêreldvreemde vreugde kom van die Heilige Gees,
as deel van die vrug van die Gees, sê Galasiërs 5:22.
Ons sal altyd blydskap en vreugde kan beleef,
selfs in moeilike omstandighede,
want ons lewe is inderdaad
“met Christus verborge in God” – Kolossense 3:3.

Daarom dat Paulus kon sê:
“Wees altyd bly in die Here.
Ek herhaal: Wees bly!”

Ernest