“Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” – Johannes 4:26.

Die Samaritaanse vrou by die put speel haar finale troef:
U mag al hierdie wonderlike dinge leer, maar ons wag vir
die Messias. Hý sal ons alles leer. Jesus antwoord haar dat
Hý die Messias is! Die Een wat met haar praat is die Messias.
Hy hét reeds gekom. Hy is nou hier by haar! Dit moes vir die
vrou ‘n ervaring gewees het.

Op hierdie besondere openbaring het die vrou geen verdere
redenasie nie. Sy is eenvoudig terug dorp toe, en aktief die
dorp in met die nuus van vers 29: “Kom kyk, hier is ‘n man
wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien
die Christus nie?” En daardie dag het sy en baie van die
Samaritane tot geloof gekom – vers 39.

Ons kan soms sê dat ons geloof het, soos die Samaritaanse
vrou. Ons kan sê dat ons dinge weet. Dat ons wag. Dat ons
voel, en dat ons pyn het. Dat ons teenstand het. Dat ons
krag het, maar te min. Dat ons in skande is, of in vreugde
en vrede. Dat ons angstig ‘n hand soek en vra: “Waar is God?
Waar is Christus?” Ons hoef nie ver te soek nie. Hy het klaar
ons hand vevat. Hy ken klaar ons nood. Hy bring klaar redding.
Hy gaan reeds saam met ons. Hy, die Christus. Die Messias.
Die Een wat ook nou met jou praat by die put.
Die put met lewende water...

Ernest