“Hy vertel hulle ook nog ‘n gelykenis: “Niemand skeur
‘n stuk uit nuwe klere om daarmee ou klere te lap nie.
As hy dit sou doen, sou die nuwe klere stukkend wees,
en buitendien sal die nuwe lap nie by die ou klere pas nie.”
– Lukas 5:36.

Jesus het met merkwaardige vertellings en gelykenisse geleer.
Hy het meestal te werk gegaan soos ‘n digter. Die beeld wat Hy
gebruik verduidelik ‘n waarheid en laat die hoorders dink.
Terselfdertyd “versluier” dit ook die waarheid om die geweldige
misterie van enige waarheid te beklemtoon. Want die misterie
van God is altyd die top-prioriteit wat eerbiedig moet word.

Ons kan dink en redeneer oor God, maar daar kom ‘n punt waar
menslike denke ophou, en waar die Goddelike “denke” eintlik
eers begin. Izak de Villiers het ‘n gedig hieroor geskryf:
“Sal ek U ooit kan dink-ken? Ráák-ken? Voel-ken,
of U oor en oor kan vergelyk, met iets wat anders is,
wat min of meer soos U is, wat ek kan verstaan?...”

Natuurlik kan ons nie. God is God, en ek is ‘n mens.
Jesus gebruik die gelykenisse soos klein “skilderye” om iets
van God se plan te wys. Maar die oomblik dat ons dink dat ons
dit volkome verstaan, kom ons te staan voor die “onuitputlike
rykdom” van God. Dit ontglip ons weer. Want God laat Hom in
geen menslike gedagte-vorm ingiet nie. God is groter as alles!
Ons kan nie ‘n greep op God kry nie. Ons is self in die greep
van God se genade! Ons verstaan gedeeltelik en kan net
aanhou wonder en bewonder. Paulus het ook gesê:
“Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten
volle ken soos God my ten volle ken.” – 1 Kor. 13:12.

Jesus sê in die gelykenis: Niemand sny materiaal uit nuwe klere
om ou klere mee te lap nie. Jy vernietig immers so die nuwe,
en dit pas ook nie by die oue nie – vers 36. Jesus kom plak nie
net ‘n nuwe lap op die Ou Verbond nie. Hy gee Homself in ‘n
Nuwe Verbond. Hy gee ons ook nie gelapte klere nie. Hy gee
ons nuwe klere – Efesiërs 4:24. Jesus lap nie net ons gees nie.
Hy vernuwe dit! Hy maak ons totale lewe nuut! Hy klee ons in
elke nuwe dag nuut! Ons kan bid:
“Here, klee my vandag met Uself, Here. Klee my in
‘n mode wat by U pas, wat U beeld weerkaats.”

Ernest