God sal tot die uiterstes toe gaan om ons
aandag te trek, ons liefde te wen, ons siele te red.
In 1893 het ‘n Rooms Katolieke digter, Francis Thompson,
‘n gedig hieroor geskryf en beskryf hy God as “die gedugte
Minnaar wat ons onverstoord en vasberade met sy liefde
agtervolg.” Het jy ruimte vir so ‘n idee van God?

Tydens die eerste week van Jesus se bediening roep Hy sy
eerste dissipels. Waarom volg hulle Hom? Wat beïnvloed
hulle keuse? Hy is tog eintlik ‘n onbekende aan hulle...
Johannes beskryf in sy eerste hoofstuk van sy evangelie die
werkwoorde wat Jesus gebruik wanneer Hy sy dissipels roep:
Jesus het omgekyk... vers 38. Jesus het gevra... vers 38. Jesus
het gesê... vers 39. Jesus het stip na hom gekyk... vers 43.
Jesus het besluit... vers 43. Jesus het gekry... vers 43.

Dit is duidelik wie die werk doen. As enige iemand in Christus
is, is dit omdat Christus al die werk gedoen het en die persoon
geroep het. Hy kan dit doen deur ‘n preek te gebruik, of ‘n
gesprek, deur ‘n lied of ‘n gebeure. Hoe ookal, Christus is
die Een wat roep!

Dink ‘n oomblik na oor jou eie lewe en wêreld...
Onthou jy die stem, die gesig, die gebeurtenis? Ook daardie
oomblik toe die doodgewone bos in die “woestyn” vir jou aan
die brand was..., soos vir Moses. Die stem van God wat duidelik
tot jou gekom het. Vir Wesley was dit ‘n voorlesing,
vir Augustinus die stem van ‘n kind wat hom Romeine 13 laat
optel het, vir Buechner die idee van ‘n gelag.

En vir jou? Die hand van ‘n bedelaar, die ontploffing in ‘n
sonsondergang, of die geboorte van ‘n kind, of die trane van rou,
of ‘n hartstogtelike preek, of ‘n vervelige preek wat “net jou”
aangeraak het...

Dit is nie die omstandigheid wat saak maak wanneer God jou
roep nie, maar God in die omstandigheid. Dit is nie die woorde nie,
maar God wat die woorde sê. Dit was nie die modder wat die blinde
man se oë laat sien het nie, dit was God se vinger in die modder.
Die krip en die kruis was algemeen. Maar dit was die Een wat in die
krip gelê het en aan die kruis gehang het!

Dit is verstommend tot watter uiterstes God sal gaan om
ons aandag te kry. Het God jou aandag? Het jy al geantwoord,
met jou lewe?

Ernest