Dit is merkwaardig dat Filippense 4:5 sê:
“Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.”
Die feit dat hier staan “die Here is naby”,
het ‘n invloed ten opsigte van jou optrede teenoor mense.
Wanneer jy besef dat jy deurgaans in die teenwoordigheid van die Here leef,
dan laat dit jou ook mooi dink hoe jy teenoor sy mense optree.

Die NIV vertaal inskiklik met “gentleness”.
“Let your gentleness be evident to all. The Lord is near.”

“Die Here is naby”, kan twee dinge beteken:
Jesus is op pad terug. Besef dit, en verwag Hom enige tyd.
Laat dit bepaal hoe jy lewe. Hy is komende!
Ook deur jou!

Dit kan ook beteken:
Jesus is naby, want Hy is oral!
Hy is daar teenwoordig, waar jy met mense te doen het!

Selfsugtigheid sal jou moeilik inskiklik maak.
Soek daarom veral ook die belange van ander.
Dit maak jou inskiklik.

Moeder Teresa het gesê dat ons gereeld vertel hoe die God lyk wat ons aanbid.
Maar, sy vra dan hoeveel van daardie God in ons sigbaar is?
Sy genade, liefde, sagtheid…..
Ons is inskiklik wanneer ons vergestalting daaraan gee,
aan God se nabyheid!
Hanteer mense so dat hulle altyd meer heel van jou af weggaan,
as met meer seer.
Gelukkiger en getroos,
eerder as ongelukkiger.

Leef saam met ander mense,
doelbewus in God se teenwoordigheid.
Leef met die wete:
“Die Here is naby.”
Dit laat jou inskiklik leef.

Ernest