Die eerste antwoord wat aan die eerste twyfelaar oor Christus
gegee is, is vandag nog toepaslik. Toe Nataniël getwyfel het dat
daar iets goeds uit Nasaret kon kom, was Filippus se antwoord
doodeenvoudig: “Kom kyk”.
Johannes 1:46: “Maar Nataniël sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret
iets goeds kom?” “Kom kyk”, het Filippus hom geantwoord”

Nataniël se vraag word vandag steeds gevra. Het tweeduisend
jaar van Christendom die wêreld verander? Is die lewe van Christus
werklik die moeite werd om aan aandag te gee? Dit is wat baie
twyfelaars vandag steeds in die wêreld vra. Filippus se antwoord
is steeds voldoende! Kom kyk!

Kom kyk na die Rots wat die winde van verandering en tyd
deurstaan het. Kom hoor sy stem! Die onbeskroomde waarheid.
Die vlekkelose genade. Die onuitwisbare liefde. Kom kyk na die
vlam wat steeds brand, wat nie deur tiranne en despote geblus
kon word nie. Die liefdesgloed wat nie deur onderdrukking
gesmoor kon word nie.

Kom kyk na hospitale en kinderhuise, en sendingstasies wat
verrys langs die ruïnes van humanisme en ateïsme. Kom kyk na
wat die Man uit Nasaret kom doen het! Christus die Here!
Kan daar iets goeds uit Nasaret kom? Kom kyk!
Kyk hoe Handel huil terwyl hy “Die Messias” komponeer,
hoe Da Vinci swaar sug terwyl hy die “Laaste Avondmaal” skilder,
hoe Michelangelo “Dawid” uit rots kap.
Kom kyk hoe Wilberforce veg om die slawe in Engeland te bevry
omdat hy glo. Hoe Lincoln lei omdat hy glo wat in sy verslete
Bybel staan. Kan daar iets goeds uit Nasaret kom? Kom kyk!

Kyk rondom ons hoe lewens verander. Hoe ‘n alkoholis ophou drink,
hoe ‘n mens se verbittering in vreugde van vergifnis verander, hoe
‘n beskaamde weer begin lewe! Kom kyk na herstelde huwelike,
weeskinders wat versorg word, gevangenis wat, steeds agter tralies,
bevryding kry in die Here! Hoor hoe tromme in woude begin om lof
te verkondig, en hoe in kommunistiese hoeke gelowiges ondergronds
bymekaarkom en bid, al kan dit hulle lewe kos. In strafkampe sing
verlostes en weier om stilgemaak te word. Kom kyk!

Kom kyk hoedat die deurboorde hand van die Here die doodgewone
harte aanraak, trane afvee, en die verskriklikste sondes vergewe.
Kom kyk na die graf waar Iemand gelê het, ‘n verseëlde graf, die graf
wat nou leeg is! Siniese teorieë en twyfelvrae smelt steeds weg in die
helder lig van die Paasoggend. Jesus het opgestaan en lééf!

Kom kyk! Hy vermy niemand wat soekend is nie. Hy ignoreer niemand
wat ‘n hand na Hom uitsteek om sy uitgestrekte hand te vat nie.
Nataniël het gekom, gekyk, en gesien! Nataniël het ontdek:
“Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning...”
Kyk, sien, en lééf!

Ernest