Ons dink dikwels dat “vrede” altyd volg op gehoorsaamheid.
Dalk het die dissipels dieselfde verwagting gehad. Hulle het
immers gedoen soos Jesus vir hulle gesê het. Jesus het gesê
hulle moet in die skuit klim, en hulle het. Hulle het eenvoudig
gehoorsaam. Al was dit al aand en feitlik donker, het hulle dit
steeds gedoen. Wat was die gevolg van hulle gehoorsaamheid?
Johannes 6:16-18 beskryf dit: “Toe dit aand word, het Jesus se
dissipels na die see toe gegaan, in ‘n skuit geklim en weggevaar
na Kapernaum toe, oorkant die see. Dit was al donker en Jesus
was nog steeds nie by hulle terug nie. Daarby het die see
onstuimig geword, omdat daar ‘n sterk wind gewaai het.”
Daar lê baie betekenis in die woorde: “...en Jesus was nog
steeds nie by hulle terug nie.” Vasgevang in die storm van
“nog steeds nie”. Kyk waarin het hulle gehoorsaamheid hulle
nou laat beland... in die nag op ‘n stormgeteisterde see met
hulle Meester nog êrens op ‘n strand...
Dit is een ding om swaar te kry as jy iets verkeerds gedoen het.
Dit is ‘n gans ander ding om swaar te kry as jy gehoorsaam is.
Maar dit gebeur, soos hier. En as die storm losbars spoel dit die
naïewe aanname weg dat alles reg sal verloop as ek gehoorsaam
is. Vra maar vir kinderlose egpare, of ‘n sakeman wat eerlik is en
inflasie vreet alles op, of die student wat standpunt inneem vir
die waarheid en bespot word, of die vrou wat haar man vergewe
om weer oor en oor bedrieg word...
Die winde bly waai. Die lewens-boot bly skommel. En die dissipels
bly wonder: Waarom die storm? Waar is die Here? Dit is erg genoeg
in die storm, maar om sonder die Here in die storm te wees...
Die dissipels was omtrent 9 uur lank op die see. Hulle het omtrent
6 kilometer geroei, vers 19. Markus 6:48 vertel dat Jesus gesién het
hulle kry swaar.
Hy sien hulle dwarsdeur die nag, en soos ‘n liefdevolle vader het
Hy gewag. Hy wag tot op die regte tyd. Hy kom op die regte tyd!
Wat maak dit die regte tyd? Wie weet? Waarom wag God tot die
geld op is? Of tot die kanker al ver gevorder het? Wie weet regtig?
Ons weet egter verseker God se tydsberekening is altyd reg om sy
Goddelike doel te bereik. Hy doen wat regtig die beste is, of ons
so voel of nie, of so dink of nie. Lukas 18:7 sê: “Sal God dan nie aan
sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?
Sal Hy hulle lank laat wag?”
Al hoor jy niks, die Here is besig om te praat. Al sien jy niks,
die Here is besig om te doen. By God gebeur niks per ongeluk of
in sy “afwesigheid” nie. Alles wat gebeur, of nie gebeur nie,
is daarop gemik om ons nader aan Hom te bring!
Wat doen God terwyl ons swaarkry? Treffend weet ons Jesus
was nie in die skuit nie, omdat Hy teen die berg opgegaan het
om te bid – Markus 6:46. Jesus bid vir ons! En Hy hou nie op
met bid as ons sukkel nie. Toe Jesus hulle hoor roep het Hy
aanhou bid!
Jesus het nie verander nie! Hebreërs 7:25 sê:
“... Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” Hulle is ons!
Wat doen ons? Ons roei! Ons spandeer ‘n groot deel van ons lewe
aan roei. Daardeur groei ons. Nader en nader na die Here toe.
Moenie opgee en die roeispane neergooi nie.
Jesus bid ‘n gebed vir jou wat Hy self gaan verhoor!
Ernest