Waarom het die Here ons so onbeskaamd lief?
Sonder om oneerbiedig te klink... die hemel weet hoeveel
pyn ons al die Here veroorsaak het. Waarom verduur Hy ons nog?
God oorlaai die wêreld met goedheid, maar ons mors daarmee.
Hy laat ons asem haal, maar ons vloek daarmee. En wanneer ons
van God iets vra, en ons kry dit nie, sê ons Hy bestaan nie of gee
nie om nie. Ons ignoreer die Woord van God, maar gryp skop en
laster as dinge verkeerd loop.

Dit laat ons net weer stilstaan en oordink: “... Hy het sy eie mense
wat in die wêreld is, liefgehad. Hy het hulle tot die uiterste toe
liefgehad.” – Johannes 13:1. Ook Psalm 136:1: “Loof die Here
want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

God het alle rede om ons aan ons eie lot oor te laat.
Maar Hy doen nie. Hoekom nie? Want ons is God se skepping.
Ons is geskep na sy beeld. Sy verteenwoordigers op aarde –
Gen. 1:27.
Ons is syne. Dink net daaraan... God het geen “neefs of niggies” nie...
God het kinders! Sy kinders! Hy het nie veraf familie nie. Ons is die
liggaam van Christus. En al tree ons nie op soos ons Vader nie, en al
vertoon ons dikwels nie die beeld van Jesus nie, is die waarheid:
Ons is syne! Ons behoort aan Hom! Dit is onveranderlik.
Hy het ons lief! Onsterflik lief. Niks kan ons skei van die liefde
van Christus nie – Romeine 8:38-39.

As dit nie God was wat hierdie woorde gesê het nie, sou dit nie so
wees nie. Maar omdat God dit gesê het, kan ons dit glo met alles
wat in ons is. Hoekom is dit vir baie mense so moeilik om dit te glo.
Hoekom glo ons dit soms so moeilik? Ons dink ons het iets gedoen
wat ons buite die kring van God se liefde plaas. Ons dink God sal
ons liewer hê as ons sekere dinge beter doen. As ons meer doen
vir God. Maar dit is nie so nie.

God het ons reeds tot die uiterste toe lief! – Johannes 13:1.
God se liefde is nie menslik nie. Sy liefde is nie “normaal” nie.
Sy liefde is nie soos ons liefde nie. Hy sien ons sonde en het ons
steeds lief! Keur Hy ons foute goed? Nee. Het jy nodig om jou
te bekeer? Ja. Maar doen jy dit om sy onthalwe, of om jou
onthalwe? Joune.
God se liefde het geen rugsteun nodig nie. Sy liefde vir jou is
volmaak. God het jou lief met God se liefde.
Hy kan jou nie meer liefhê as wat Hy jou reeds het nie.
Beantwoord sy liefde met jou lewe.

Ernest