Die Bybel vertel die verhaal van twee tuine. Eden en Getsemane.
In Eden het Adam tot ‘n val gekom. In Getsemane het Jesus standpunt
ingeneem. In Eden het God na Adam gesoek. In Getsemane het Jesus
na God “gesoek”. In Eden het Adam vir God weggekruip. In Getsemane
het Jesus uit die graf te voorskyn gekom!
In Eden het die Satan vir Adam na ‘n boom geneem wat tot sy dood
gelei het. Uit Getsemane het Jesus na die kruis, die vloekhout, gegaan
wat tot ons lewe gelei het.

Satan was nooit na die tuin van Eden genooi nie. Hy het nie daar
gehoort nie. Hy het soos ‘n slang in God se tuin ingeseil en God se
kinders vergiftig. Van toe af is dit al wat Satan doen. Hy vernietig
heilige tuine.
Soos die huwelik wat heilig is in God se oë. Dit was van die begin af
God se instelling. God is daar teenwoordig. Ons neem ook heilige
ede oor verskillende dinge. Ons maak plegtige beloftes, soos om
goeie ouers te wees, ‘n ware metgesel te wees, of ‘n lojale vriend.
Maar Satan spits sy ore vir elke belofte, eed of goeie onderneming,
met die doel om dit te vernietig. Hy is immers die vader van die leuen.

‘n Kind is heilig in God se oë. Ons maak doopbeloftes daaroor.
Jesus het nooit sy rug op ‘n kind gedraai nie. Maar Satan verag kinders.
Hy het babas om die lewe laat bring om Moses dood te maak. Hy het
suigelinge laat vermoor om Jesus dood te maak.
Sy taktiek het nog nooit verander nie. Duisende kinders word
mishandel en selfs babas word doodgemaak. Voor en na geboorte.
In Johannes 8:44 het Jesus van Satan gesê:
“...Hy was van die begin af ‘n moordenaar...”

Is daar ‘n ryk wat Satan nog nie bygekom het nie?
‘n Plek waar sy swaard nog geen letsels gelaat het nie?
Selfs in die Kerk maak hy sy merk... oral...

En ek en jy? Ons word geroep om heilig te wees.
Ons is geskep om heilig te wees. Is daar ‘n mens wat nog nie die
indringer slang beleef het nie? Nee. Wat Satan in Eden gedoen het,
doen hy vandag nog. Daarom moet ons weet dat wat Jesus in
Getsemane gedoen het, doen Hy ook vandag nog!
Hy eis dit wat heilig is deurgaans en wéér op vir God!
Wat doen ons met wat heilig is vir God? Wat doen jy met jou lewe?
Aan God gewy? God eis op wat heilig is!
Hoe leef jy in dit wat vir God heilig is? Hoe leef ons?

Ernest