Ons het gesien hoeveel gesag die woorde
van Jesus dra in die tuin van Getsemane.
Hoe die soldate teruggedeins het en op die grond
neergeval het. Hoe dit nie saakmaak wie die Bose werf
om vir hom te werk nie, die Here is in beheer! Die beste
van Satan smelt soos was in ‘n vuuroond in die
teenwoordigheid van die almagtige Here God.
Jesus moet vir ‘n tweede keer in die tuin van Getsemane vra
wie hulle soek. Wanneer hulle antwoord dat hulle Jesus van
Nasaret soek, sê Jesus: “... Ek het vir julle gesê dit is Ek.
As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om
weg te gaan.” – Joh. 18:8.
Wat is hier besig om te gebeur? Jesus beveel hulle! ‘n Jood wat
‘n Romein opdrag gee. ‘n “Afvallige” wat die tempelwag opdrag
gee. Hulle is nie alleen stil nie... maar gehoorsaam Jesus!
Die apostels word vrygelaat. Baie gebeur in die tuin van
Getsemane op daardie aand. Judas en sy verraad. Petrus en sy
swaard. Die dissipels en hulle vrees. Die soldate en hulle wapens.
Maar, uiteindelik, is die ontmoeting nie tussen Jesus en die soldate
nie, maar tussen God en Satan. Satan waag dit weer in ‘n tuin, soos
in die tuin van Eden, maar hy het geen kans in die teenwoordigheid
van die God wat verlos nie! Dink aan Efesiërs 6:12:
“Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose
magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug.”
En 1 Joh. 3:8: “... En die Seun van God het juis gekom om die werk
van die duiwel tot niet te maak.”
Moenie God se beloftes miskyk nie. Voor Christus het Satan niks
te sê nie. Satan is magteloos voor die beskerming van Christus.
Joh. 18:9: “... Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore
laat gaan nie”. Lees dit weer! Wanneer Jesus sê dat Hy jou sal
bewaar doen Hy dit!
Het Satan ‘n belangrike tuin in jou lewe ingeneem en saai hy
verwoesting? Laat toe dat Jesus dit weer vir jou opeis!
Vandag nog. Nou! Satan het geen gesag oor jou nie.
Gee dit nou oor aan die almagtige Here God.
Alleen Hy het gesag oor jou!
Ernest