God se getrouheid het nog nooit afgehang van die getrouheid
van sy kinders nie. Lees dit weer ‘n keer en oordink dit. God se
getrouheid het nog nooit afgehang van die getrouheid van sy
kinders nie. Hy bly getrou, selfs al is ons nie getrou nie.
God het ‘n geskiedenis daarvan gemaak om mense te gebruik
ten spyte van mense.

Neem nou maar die voeding van die 5000 mense.
Hierdie wonderwerk is in al vier die Evangelies opgeteken.
Dalk wou al vier skrywers aantoon hoedat God nie tou opgooi
met ons nie. Selfs wanneer ons ontrou raak. Jesus wou na die
dood van Johannes die Doper tyd deurbring saam met sy dissipels.
Maar in plaas daarvan is daar ‘n mense-skare wat hulle omring.
Op ‘n punt draai Jesus na Filippus en vra: “Waar kan ons brood
gaan koop sodat die mense kan eet?” – Joh. 6:5. Ons sou verwag
dat Filippus aan ‘n uitweg sou dink. Hy was so pas getuie van
geeste wat uitgedryf is en mense wat gesond gemaak is.
Hy behoort optimisties te wees. Geloof sou gepas wees. Hy het
nou al vir ‘n geruime tyd saam met Jesus gesien hoe die
“onmoontlike” gebeur.

Maar hoe reageer Filippus? Hy sien die probleem, maar hy het
geen idee wat die oplossing kan wees nie. Hy antwoord moedeloos:
“Ons sal almal ‘n maand lank moet werk om ‘n stukkie brood vir
elkeen van hierdie mense te kan koop.” – Joh. 6:7. Hoewel die
antwoord op gebed reg langs hom staan, bid Filippus nie eers nie.
Ook die ander dissipels is stil. Hulle sê hoogstens dit is afgeleë en
al laat. Stuur die mense terug! Markus 6:35-36. Dit kom nie eers by
die dissipels op om die probleem vir Jesus te gee nie. Andreas het
dit oorweeg, maar ook sy geloof is klein: “Hier is ‘n seuntjie met vyf
gars brode en twee vissies. Maar wat is dit vir so baie mense?” –
Joh. 6:9.

Hulle bid nie, hulle glo nie, en hulle soek nie eers na ‘n oplossing nie.
Al wat hulle doen..., is om vir Jesus te sê wat om te doen! Stuur die
mense weg. Wat doen die Here? God is eenvoudig groter as ons
swakheid! Ons swakheid wys juis hoe sterk God is! Wat doen die
Here wanneer sy kinders swak is? Hy het alle rede om hiér moed op
te gee met die dissipels! Wat doen Hy? “Daarna het Jesus die brood
geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat
daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.”
– Joh. 6:11.

Toe die dissipels nie gebid het nie, het Jesus gebid. Toe die dissipels
God nie raakgesien het nie, het Jesus na Hom gegaan. Toe die dissipels
swak was, was Jesus sterk. Toe die dissipels geen geloof gehad het nie,
het Jesus geloof gehad. Hy het God gedank! Daarna het Hy die brood
aan die dissipels gegee om uit te deel. Eerder as om die dissipels te straf,
het Hy hulle aan die werk gesteek. Hulle deel in die antwoord op die
gebed wat hulle nie eers gebid het nie. As Jesus sou optree op grond
van die geloof van sy dissipels, sou die skare honger gebly het.

Die Here doen dit vandag ook nie. God is getrou aan ons selfs wanneer
ons van Hom vergeet! God deel sy seën uit volgens die rykdom van sy
genade, nie volgens die diepte van ons geloof nie. Daarom gee ons nie
op nie, maar kyk op. Ons vertrou en glo. Want God is getrou, selfs al is
sy kinders nie.

Ernest