Die volk Israel was in ballingskap.
Vêr van hulle land, en hulle vryheid, en, so dink hulle, hulle God.
Die Here se hart gaan uit na sy koerslose kinders.
Hy weet hulle koersloosheid neem juis hul ware vryheid weg!
Getrou aan sy liefde bly God roep na sy kinders.
Hy roep ook steeds na ons.
Hy wil stukkende mense heelmaak.
Hy wil ons harte suiwer en ons nuutmaak.
By Hom is ons soveel meer, en groei ons deurgaans.
Waar is jy op die oomblik?
Esegiël 11:19 sê:
“…Ek sal hulle harte verander en hulle gees nuutmaak.
Ek sal die harte van klip wegneem,
en vir hulle sagte harte in die plek daarvan gee.”
Gelowiges het die behoefte aan suiwerheid, heelheid, volmaaktheid.
Maar ons weet dit is moeilik, en ‘n sterk stroom laat ons dikwels wegdryf.
In die teenoorgestelde rigting as waar ons graag wil gaan.
Elke generasie dink dat sy era die ergste is.
Tog leer die Woord ons dat die Heilige Gees juis daar is,
om ons in ons swakheid te hulp te kom!
Ons is nooit alleen in ons stryd nie.
Dit is juis dikwels die probleem.
Ons dink ons is alleen in die stryd, en wil dan alleen veg.
Ongeag of dit voel of ons van die Here af wegdryf,
bly Hy tog naby aan ons.
Om binne God se wil te groei, en binne sy wil te bly, is nie ‘n eendag taak nie.
Dit is om keer op keer weer uit die stroom te klim en op die regte koers te kom.
Kyk in watter stroom jy is.
Waarheen is jy tans met jou lewe op pad!?
Ernest