Matteus 28:9: “Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan
en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en
Hom aanbid.” Mens wonder hoe ‘n drama sou lyk wat geskryf
word oor Jesus se besoek aan ‘n groot stad tydens Kerstyd.
Soos Johannesburg. Sou daar verkeersknope wees. Sou daar
beurtkrag wees? Hoe sou die strate in Hillbrow lyk? Sou die
stadsvaders Jesus in die Hilton Hotel ontvang met flitsende
kameras. Sou hulle Hom na Sandton City neem, en na die
massiewe winkelsentrums? Of op ‘n begeleide toer na
Soweto?
‘n Moderne “lam ter slagting” met mense wat om Hom maal
vir gunste ter wille van hulleself, soos destyds langs die meer?
Maar wat van Dawid se raad? Daar is een poort in die ou muur
van Jerusalem wat met klippe toegepak is. Oorlewing lui dat die
klippe met die koms van die Messias sal verkrummel. Iemand
het hieroor navraag gedoen en ‘n Joodse dame antwoord toe
soos volg daarop: “The gate you are asking about is the Mercy
Gate, and when the Messiah comes, He will go into the city
through this gate. It is between the Herod and Garbage gates.”
Hierdie antwoord wek ‘n realistiese onmiddelikheid!
Hulle verwag die Messias deur daardie einste poort!
Hulle verwag steeds dat Hy nog moet kom.
Ons verwag reeds sy tweede koms...
Of dit nou Jerusalem of Johannesburg is, sou iemand Jesus,
onaangekondig, herken? Sou iemand Hom opmerk in die gewoel?
Jesus kom tans reeds daagliks in hierdie wêreld na mense toe.
In stede, in voorstede, in dorpies, op plase, oral... wie herken
Hom en ontvang Hom?
Hulle wie Hom soek! Soek en jy sal vind. Dit werk so, want die
vroue wat Hom op die dag van die opstanding in Jerusalem
gaan soek het, het Hom herken... hulle het hom gekry, sy voete
gegryp en Hom aanbid! – Johannes 28:9. Hulle was gevoelig vir
sy verskyning. En Jesus is gevoelig vir mense wat vir Hom gevoelig
is en Hom soek. Hy openbaar Hom aan hulle op verskeie maniere.
Ook tussen winkelrakke, in huise en kantore, op straat in die
gewoel, en veral ook waar na Hom gesoek word in eenkant stilte.
Hy kom sit dalk langs jou in die motor. Sal jy ook soos die vroue
“bang maar baie bly” wees as Hy sigbaar word in jou konteks?
Sal jy sy voete gryp en huil van blydskap in aanbidding?
Mag dit so wees met ons,
net soos met hierdie vroue in Jerusalem.
Ernest.