‘n Kind beleef Kersfees meestal anders as volwassenes.
Vir ‘n kind is dit ‘n deurlopende stygende opwinding,
hoe nader Kersfees kom. By ons voorouers het jy geweet
dit kom as die gemmerbier-bottels gewas is en in die son
staan om goed te droog en te “reinig”. Wanneer kers-
inkopies baie tyd en beplanning vra, weet jy hier kom dit.
Maar daar is nog tekens. Belangrike tekens.
Jesus sê eenvoudige natuurtekens wat gelykenis is van ‘n
Plan wat aan die ontvou is en stadig tot voleinding gevoer
word. Markus 13:28: “Leer dit van die vyeboom as voorbeeld:
wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die
somer is naby.”
Die vyeboom kondig die seisoen van groei aan. Die voorspel
tot groot kosmiese gebeure. Die glans van die stad van God.
‘n Vyeboom wat bot is nog kaal, maar groen puntjies begin
oral vorm op die vaal takke. Vir die Oosterling was dit ‘n
verblydende belofte van die koms van soet vrugte as voedsel
en lekkernye. Van oorvloed en lewe. Dit beteken die koue is
op ‘n end en die somer met groei en lewe is naby.
Enersyds sal Jesus vrugte soek aan die vyeboom. Andersyds
sê Jesus: “So moet julle ook wanneer julle hierdie dinge sien
gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur. Hy sê dat ons
opmerksaam moet wees vir wat Hy besig is om oral te doen.
Soos dit in die natuur gaan waar God in beheer is, gaan dit
ook in God se groot omvattende herskeppingsplan!
Ook hierdie komende Kersfees is die herinnering aan
opmerksaamheid om God se werk in alles te sien, en ook te
besef dat Jesus wéér kom! Ons moet dit raaksien en in
verwondering staan oor hoe dit ontwikkel. Dink in hierdie
Kersgety, waarin ons Jesus se koms na die wêreld vier, ook
aan sy tweede koms wat op hande is en soos ‘n swaar
reënwolk bokant ons hang om seën uit te stort...
en ook oordeel vir die wat sien en nie glo nie.
Ernest