Hebreërs 11:17-18: “Omdat Abraham geglo het,
het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer
afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het...”
Waar Maria met haar kindjie in die tempel staan,
vol verwondering oor wat sy alles ervaar en hoor,
laat dit jou terugdink aan die man met wie die
Groot Plan van God in besonder begin het:
Abraham, die vader van die gelowiges.
Hy staan ook met ‘n kind, sy seun Isak,
voor ‘n berg! Hy het ‘n vreemde opdrag van
God gekry: Hy moet sy seun, God se groot belofte,
gaan offer.
Hy het ‘n keuse gehad. By Moria gaan hy bergop met
sy seun. Met sy offerhout en sy mes. Sou hy gedink het
dat God ‘n wispelturige God is? God het dan die seun
aan hom gegee as ‘n belofte! Sou hy dit as ‘n “eksamen”
ervaar het? Watter moontlikhede sou God volgende
uitdink om sy geloof te toets? Niks word oor dit gesê nie.
Abraham bly bergop stap in hoop en vaste geloof dat
God reg sal doen!
Die mense rondom wie die Here sy plan weef,
staan soms in uiterste moeilike omstandighede van
verwarring en met feitlik onmoontlike opdragte.
Onder uiterste druk word diamante uit swart koolstof
gevorm. God vorm ook so sy “diamante”. Abraham is
deur God gevorm as diamant. Christus die ewige ster
van diamant. Dit is waar ons ons lig vandaan kry,
en waaruit ons gevorm word.
En die donker sal dit nie oorweldig nie!
Ernest