Deuteronomium 10:12-13: “En nou Israel,
die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer,
sy wil moet gehoorsaam, Hom moet liefhê en dien
met hart en siel. Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte
wat die Here jou vandag deur my gee.
Dit sal jou tot voordeel wees.”

Moses was nog ‘n diamant van God. Onder druk gevorm
om diamant te wees. Vir ‘n tweede keer kry hy die gebooie
van God op ‘n klip. Hy dra dit oor aan Israel. Hulle moet die
Here liefhê en dien. Met hulle hele hart en siel moet hulle
gehoorsaam wees. God se voorskrifte en gebooie hou.
Dit sal hulle tot voordeel wees. Die volk aanvaar dit
geesdriftig, om algaande weer te vergeet.

Hierdie boodskap sou selfs vir Moses nie maklik wees nie.
Dat Hy God geëer het, daaraan is nie twyfel nie. Of hy altyd
God se wil gedoen het is twyfelagtig, soos met almal.
Dat hy God liefgehad en gerespekteer het, is waar. Maar,
sou hy volpunte kry? God het met hom gepraat soos ‘n man
met sy vriend. Maar vriende stel ook teleur. Eeue later sou
nog ‘n diamant, Paulus, in Romeine 3:10 skryf:
“Daar is nie een wat regverdig is nie, nie een nie.”
Dit is net Christus alleen, en “genade” is die woord.

Nogtans is dit duidelik dat Moses God in uiters moeilike
omstandighede gevolg het. Respek en liefde vir God was
sy riglyn. Daar was in Moses ‘n passie vir God. Passie word
respek, en respek word gehoorsaamheid, en gehoorsaamheid
word passie van liefde. Natuurlik sal dié riglyn vir ons tot
voordeel wees. Moses kan ons leer. Maar Christus moet ons
hand hou, die Vader moet ons genadig wees, en die Heilige
Gees moet ons inspireer. God doen dit alles!
God doen dit alles tot ons voordeel,
soos bogenoemde Deut. 10:13 sê.

Ernest