Leef in elke oomblik van jou lewe, want God is ook daar.
Ons is geneig om die “groot” oomblikke te onthou.
Oomblikke soos ‘n kind se geboorte, ‘n spesiale liefde,
‘n troue, ‘n doop, of lewensveranderende erediens,
‘n ontmoeting met die Here…
Lukas Maree sing in sy “Kiekies” van sulke oomblikke:
“My kiekies is verwysings, my lewensinventaris,
die ensiklopedie van my bestaan.
My kiekies is bewyse vir die feit dat ek ook daar was,
‘n prentjiekommentaar wat my beaam.”
Treffende liedjiewoorde!
Ons kan egter so vasgevang raak in elke dag se eise,
dat die trefferoomblikke verdwyn, vervaag.
Soos ‘n kiekie verbleik.
Ons leef as’t ware in ‘n oorlewingstryd,
en smag na die kiekie oomblikke.
Sulke kiekie oomblikke is mooi.
Ons moet egter nie vir God tot hierdie groot oomblikke beperk nie.
Dan word hy as’t ware ‘n geleentheidsgod.
Hy is tog daar in elke oomblik van my lewe.
Daarom kán ek lewe!
Efesiërs 5:16 sê dat ons elke geleentheid die beste moet gebruik!
Dan kyk ons met ander oë na die gewone oomblikke.
Jy hoor die oggendvoëls.
Jy onthou die toebroodjie saam met jou kollega.
Jy sien die moeë mens agter die kasregister raak,
wat al baie baie vroeg moes opstaan om te pendel.
Jy groet jou familie asof jy hulle vir lank nie gaan sien nie.
Jy blaai saans deur God se album van die dag,
en onthou elke kosbare oomblik!
Jy sien Sy kiekies raak!
Macrina Wiederkehr praat van die “sacred pauses” in jou dag.
Die heilige oomblikke van God wat deurgaans daar is!
Leef dit raak!
Ernest