“Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou:
As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die
koninkryk van God nie sien nie.” – Johannes 3:3.
Ons kan ons klere verander, en ons gewoontes verander,
en ons woordeskat, en hoe ons praat, ons leesstof en selfs
ons gesindheid. Daar is egter een ding wat óns nie kan verander
nie, naamlik ons sondige toestand. Jý kan nie jou sondige toestand
verander nie! Ons kan nie die uiterlike verander en dan dink die
innerlike sal ook verander nie. Selfs geleerdheid, opleiding, die
regte gewoontes en regte dissiplines kan nie ons sondige toestand
verander nie.
Ons probeer só hard. O, ons probeer só hard... Paulus beskryf dit
so goed in Romeine 7:18-24. Lees dit verseker in jou Bybel.
Hy sê dat die goeie nie in ons sondige aard woon nie. Daar is by ons
die wil om die goeie te doen, en tog doen ons dit so dikwels nie!
Die goeie wat ons wil doen, doen ons nie, maar die slegte wat ons
nie wil doen nie, dit doen ons!
In vers 24 roep Paulus eintlik in frustrasie uit: “Ek, ellendige mens!
Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?”
Dan volg hierdie alles oortreffende antwoord in vers 25:
“Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”
Paulus sê dit maak nie saak hoe hard ons probeer nie, ons sondig
steeds teen God. Ons weet dit. Ons kan daarvan getuig in alle
eerlikheid. Jy verloor so maklik jou humeur, jy vergeet jou doel
waarvoor jy leef, jy wil jou sin hê, jy vertel wit leuens en slegte
leuens, jy begeer wat jy nie moet begeer nie, jy struikel... en val.
Onthou wie Paulus is, wat so worstel met hierdie werklikheid.
Hy is ‘n apostel, sendeling vir Christus, ‘n yweraar, ‘n martelaar
vir Christus, ... ‘n sondaar...
Hý wat vra: Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie
doodsbestaan verlos? Hý gee ook die antwoord op hierdie
lewensbelangrike dilemma:
Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here!
Ons buitekant verander nie ons binnekant nie. Uiterlike dissipline
verander nie die innerlike nie. Nuwe gewoontes bring nie ‘n nuwe
siel nie. Dit wil nie sê dat uiterlike veranderings nie goed is nie.
Dit wil sê dat uiterlike veranderings nie die essensie is nie, en dat
dit verseker nie genoeg is nie. As ons die koninkryk van God wil
sien, moet ons opnuut gebore word.
Dít... sê Jesus self in bogenoemde Johannes 3:3! Oordink hierdie
kern-waarheid. Dit is vir jou lewensbelangrik! Waar staan ek in my
verhouding met die Here? Dit is waarvoor Jesus na die wêreld
gekom het... om jou te verlos van jou sondige bestaan!
Ernest