Om opnuut gebore te word is om weer gebore te word.
Hierdie frase behoort aan Jesus: “Daarop sê Jesus vir hom:
“Dit verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie,
kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Jesus gebruik dit
die eerste keer in sy gesprek met Nikodemus. Nikodemus was
‘n goeie mens. ‘n Baie goeie mens. Hy was ‘n Fariseër,
‘n godsdienstige leier, ‘n lid van die Sanhedrin, een van die geleerde
besluitnemers in Jerusalem. Hy was hoogs geleerd en het ánder
geleer dat uiterlike verandering innerlike verandering tot gevolg
sal hê. Jy moet eenvoudig die wet tot op die letter eerbiedig.
Dit is wat Paulus ook gedoen het. Om die wet so reg as moontlik
uit te voer. Leef die wet! Dit sal jou red!... Maar Jesus het vir
Nikodemus gesê: “Dit verseker Ek jou: “As iemand nie opnuut
gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” – Joh 3:3.
Nikodemus se vraag in vers 4 is opreg: Hóé kan ‘n mens gebore word?
Nikodemus vra nie waarom of hoekom nie. Hy vra opreg hóé?
Hoe word mens opnuut gebore?

Om ‘n idee te kry: Dink terug aan jou eie geboorte. By geboorte is jy
as mens nuut. Nuwe hande. Nuwe voete. Nuwe oë, neus, mond en ore.
Alles splinternuut! Alles oorspronklike materiaal. Wie het die nuwe
liggaam vir jou gegee van konsepsie af? Jý het niks daarvan gemaak nie.
God het jou in die moederskoot gevorm. Dit is God wat alles die eerste
keer van nuuts af maak. Dit is ook Hy alleen wat alles die tweede keer
nuut maak. Die Skepper skep weer nuut!
“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby,
die nuwe het gekom.” – 2 Korintiërs 5:7. Dit is weer ‘n wonderwerk
van God!
Dit is verstommend hoe God ‘n liggaam genees. Dit is merkwaardig
wanneer God gebed verhoor. Dit is net so wonderlik wanneer God
vir ons ‘n nuwe werk gee, of ‘n nuwe motor, of wat ookal.
Maar niks hiervan kan vergelyk met God wat ‘n nuwe mens skep nie.
Deur die eerste geboorte, en ook deur die tweede geboorte,
die opnuut gebore te word as nuwe mens!

Tydens ons nuwe geboorte herskep God ons siel en gee aan ons
weer ‘n keer alles wat ons nodig het om vir Hom te leef! Nuwe oë
sodat ons deur geloof kan sien. ‘n Nuwe gemoed sodat ons die
gemoed van Christus kan hê. Nuwe krag sodat ons nie moeg word
en uitsak nie. ‘n Nuwe visie sodat ons nie moedeloos word nie.
‘n Nuwe stem om Hom te loof. Nuwe hande om Hom te dien.
Bo alles, ‘n nuwe hart wat gereinig is deur Christus!
Lééf nou nuut!

Ernest