Ons het dit so nodig... om opnuut gebore te word. Jesus het dit self
beklemtoon in sy gesprek met Nikodemus. Dit is lewens-belangrik.
Die eerste geboorte was vir die aardse lewe. Die tweede geboorte
is vir die ewige lewe. Die eerste geboorte het ons ‘n fisieke hart gegee.
Die tweede geboorte gee ons ‘n geestelike hart. Die eerste geboorte
het ons in staat gestel om ‘n aardse lewe te voer. Die tweede geboorte
stel ons in staat om die ewige lewe te hê.
Hierdie analogie bevat ‘n verdere waarheid. Die vraag is hoe aktief jy
aan jou eie fisiese geboorte meegewerk het. Wat het jy gedoen tydens
jou eerste geboorte? Het jy jou hande of voete gebruik om doelbewus
die geboorteproses te help? Kon jy vir jou ma sê hoe om te druk?
Het jy die kontraksies gemeet en daarop gereageer? Nee. Jy was totaal
passief. Jy is nie gebore as gevolg van iets wat jý gedoen het nie. Iemand
anders het al die werk gedoen. Iemand anders het die geboortepyne
gevoel. Dit was jou ma. Sy het gedruk en geworstel. Jou geboorte was
te danke aan iemand anders se “harde” werk.
Dit is ook waar van jou geestelike geboorte. Dit is deur God se pyn dat
ons gebore word. Dit is nie ons worsteling nie maar God sin in Christus.
Dit is nie ons bloed nie, maar God, die Seun, se bloed. God is die Een
wat liefhet. God is die Een wat gee. God is die Een wat red.
En die mens? Die mens is die een wat glo. En vir hulle wat glo het God
die nuwe geboorte belowe. Ten spyte van die eenvoud, is daar steeds
mense wat nie wil glo nie. Hulle vertrou nie God se belofte nie. Hulle
vertrou nie vir God self nie. Hulle kan hulle nie voorstel hoe dit moontlik
is dat God hulle by name ken nie. Laat staan nog hulle sonde vergewe...
Dit is te goed om waar te wees. Maar vir hulle wat dit glo het God die
ewige lewe belowe. Die keuse bly ons sin.
Beteken dit ons sal nooit weer sondig nie? Beteken dit ons sal van
daardie oomblik af elke versoeking volledig kan weerstaan? Nee.
Neem weer die voorbeeld van die baba wat gebore word. Kyk na die
pasgebore baba. Kan die baba dadelik loop? Of homself voed? Of kan
die baba dadelik praat? Nee, nog nie. Maar eendag sal hy praat.
Dit neem tyd om te groei. Maar die ouers in die kraamsaal skaam
hulle nie. Natuurlik nie. Hulle weet dit alles sal mettertyd kom.
God weet dit ook, met ons. “God is geduldig met julle, omdat Hy nie
wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet
bekeer.” – 2 Petrus 3:9. God is baie geduldig met ons. Anders was
ons lankal tot niet.
As ons val, dan twyfel ons of ons weergebore is. Ons dink as ons
struikel, is ons nie waarlik bekeer nie. Ons dink as ons ou begeertes
ondervind, dan kan ons mos nie nuut-gemaak wees nie.
As jy hieroor angstig is, dink dan weer aan Filippense 1:6: God,
wat die goeie werk in ons begin het, sal dit end-uit voer en sal dit
voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.
Onthou: die eerste keer het jy nie ‘n keuse gehad om gebore te
word of nie. Ten opsigte van die tweede geboorte, die wedergeboorte,
het jy ‘n keuse! Die krag is God sin. Die inspanning is God sin.
Die pyn is God sin in Christus aan die kruis.
Maar die keuse is joune.
Ernest