Johannes 6:27-29 is regtig lewensbelangrik: “... Julle moet nie werk vir
die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie
en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want
God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.” Hulle vra Hom toe:
“Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?” En Jesus
antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom
wat Hy gestuur het.”

Jesus reduseer die worstelstryd van die lewe tot net twee sake!
Ons strewe óf na kos wat sleg word, óf na kos wat hou. Kos wat sleg word
is enige iets wat tydelik is: prestasies, toekennings, rykdom, mag... enige
iets wat in die graf bly. Dit is kos wat sleg word. Kos wat hou, hierteenoor,
is enige iets wat ewig is, en nie in die graf bly nie. Hoe kry ons hierdie kos
wat hou en ewig is? Dit staan duidelik in vers 27: “Dit sal die Seun van die
mens vir julle gee...” Jy koop dit nie. Jy onderhandel nie daarvoor nie.
Jy verdien dit nie. Dit is ‘n geskenk! Glo net dat dit ‘n geskenk van God is
en aanvaar die geskenk! Aanvaar God se liefde in Jesus aan die kruis.

Jesus se toehoorders verstaan dit nie, of glo dit nie, en hulle vra:
“Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?” – vers 28.
Dit is die vraag van ongeloof. Hy sê Hy gee dit as geskenk, maar hoe betaal
ons daarvoor? Hoe verdien ons hierdie maaltyd? Ons wil nie glo en kan nie
aanvaar dat ons dit nie kan of moet verdien nie. Ons beroof eintlik vir God
van die vreugde van gee in sy genade! Hoe dikwels beroof ons God nie?
Dink net, ons probeer God betaal vir sy goedheid. Besef jy dat God ‘n
blymoedige gewer liefhet juis omdat Hy ‘n blymoedige Gewer is!
As ons wat sleg is dit geniet om geskenke te gee, hoeveel te meer nie God
wat goed is nie! Ons wil van God se genade-geskenk ‘n omkoop-geskenk
maak wat ons wil verdien. Let op Jesus se antwoord op hulle vraag:
“Wat God van julle verlang is...” Dadelik het hulle seker nader geleun om te
hoor... is dit meer gebed? Meer gee? Meer die Skrifte memoriseer? Wat is
dit wat Hy verlang?
“Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het”
– vers 29.

Ons moet helaas besef ons het niks uit onsself wat ons in die hemel bring nie.
Nie eers goeie werke of ‘n goeie karakter nie. Maak nie saak hoeveel goeie
werke jy het nie, of hoe edel jou gawes en karakter is nie, dit is nie genoeg nie.
Die wie God sien is nie die ordentlikes nie, maar die heiliges. Hebreërs 12:14:
“Beywer julle vir... ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie”.
Sonder Jesus Christus is jy nie heilig nie. Hy heilig jou. In Hom is jy heilig. Glo dit!
Aanvaar die werk wat Christus reeds gedoen het, die werk van Jesus aan die kruis!
Glo dit! Laat vaar jou eie goeie werke vir redding, en aanvaar wat Christus reeds
vir jou gedoen het. Staan voor God in Jesus se Naam. Nie in jou eie naam nie.

Is dit so eenvoudig? Ja, dit is so eenvoudig! Is dit so maklik? Dit was hoegenaamd
nie maklik nie! Die kruis was swaar, die bloed was werklik, die prys kon net God
betaal, die hoogste prys in die heelal, sy eie Seun. Ons kan niks betaal nie.
Noem dit eenvoudig. Noem dit ‘n geskenk van God.
Maar moenie dit maklik noem nie. Noem dit wat dit is:
Genade!

Ernest