Die vraag is: Lei jy deur jou lewe, of mislei jy deur jou lewe?
Moenie een boodskap verkondig en iets anders leef nie. Jy hoef
nie soos die wêreld te wees om indruk te maak op die wêreld nie.
Jy hoef nie soos die skare te wees om die skare te verander nie.
Jy hoef jou nie na ‘n laer vlak te verlaag om hulle tot jou vlak op
te tel nie. Heiligheid probeer ook nie buitengewoon wees nie.
Heiligheid streef daarna om so te leef dat jy hoe langer hoe meer
die beeld van Jesus vertoon. Heiligheid is onweerstaanbaar.
Weereens: Moenie een boodskap verkondig en iets anders leef nie.

Let op die laaste sin van Paulus se woorde in 1 Tess. 4:11-12:
“Laat dit vir julle ‘n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met
julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien,
soos ons dit aan julle voorgehou het. Dan sal julle eerbare lewenswyse
die agting van die mense buite die gemeente afdwing...” ‘n Rustige lewe
lei daartoe dat ongelowiges gelowiges respekteer. Jou lewe is in
ooreenstemming met jou woorde. Jy kan nie bekering verkondig en
immoreel lewe nie. Jy kan nie waarheid verkondig en oneerlik lewe nie.

Mense let meer op na hoe jy optree en leef, as wat hulle luister na wat jy sê.
Franciscus van Assisi het ‘n jong monnik saam met hom na die dorp geneem
om te gaan preek. Hulle het op en af in die straatjies geloop en met mense
gesels. Hulle het heelwat later na die klooster teruggegaan. Die jong monnik
het aan Franciscus gevra: “Het u vergeet, vader, dat ons dorp toe gegaan het
om te gaan preek?” Franciscus het geantwoord: “My seun, ons hét gepreek.
Baie mense het ons gesien. Hulle het ons gedrag fyn dopgehou en ons
gesindheid noukeurig bepaal. Hulle het gehoor wat ons praat.
Só het ons ons preek gelewer.”

Wanneer jou woorde en jou lewe dieselfde is, tot eer van die Here,
het hierdie samesmelting die trefkrag van dinamiet. Maar as jy een ding sê
en iets anders leef, is die gevolg vernietigend. Mense sal weet dat ons
Christene is, kinders van die Here is, nié omdat ons die naam dra nie,
maar omdat ons dié lewe leef. Dit is die lewe wat vir ons die naam verdien,
en nie andersom nie. Om jouself ‘n kind van God te noem, is een ding.
Om ‘n kind van God genoem te word deur diegene wat jou lewe dophou,
is geheel en al iets anders.

Ernest