Ons het almal al etikette gebruik. Ons plak hulle op lêers,
en konfytbottels, en allerhande ander houers, om te onderskei
wat die inhoud van die houer is. Ons plak ook etikette op mense...
om dieselfde rede. Ons besluit op sigwaarde wat die inhoud is en
plak die etiket. In Johannes 9:2 lees ons van ‘n keer toe die dissipels
iemand geëtiketteer het wat blind gebore was. Die dissipels het die
etiket van sonde opgeplak en vra aan Jesus: ... “Rabbi, deur wie se sonde
is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” Dit maak nie
saak dat die man ‘n bedelaar is en hulp nodig het nie. Dit maak ook nie saak
dat die man sy lewe lank “in die donker” leef nie. Dit maak ook nie saak dat
die man wat voor hulle sit binne hoorafstand van hulle af is nie.
Hulle etiketteer hom en praat eenvoudig oor sy of sy ouers se sonde.
Hoe kon hulle so hardvogtig wees? So onsensitief? So... blind?
Ons doen dieselfde. Ons praat makliker van mense as om hulle te help.
Dit is makliker om ‘n debat te voer om oor egskeiding te praat as om
geskeides te help. Om te bespiegel oor hoekom iemand werkloos is, as om
te help. Dit is makliker om die welsyn-stelsel te bespreek as om die armes
self te help. Ons kan aanhou en aanhou met voorbeelde. Dit is makliker om
‘n etiket op te plak as om onvoorwaardelik lief te hê. Dit alles wil sê dat dit
verkeerd is om eers die etiket op te plak, en dan na te gaan wat die inhoud is.
Matteus 7:1-2 se woorde van Jesus is dringend: “Moenie oordeel nie, sodat
oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor
ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee
julle ander meet, sal julle gemeet word.” Wees versigtig wanneer jy oordeel.
Baie versigtig. Dit beteken nie ons moenie onderskei nie.
Dit beteken wel ons moenie ‘n oordeel vel nie.
Let op hoe Jesus die blindgebore man gesien het. Heeltemal anders.
Eerder as om hom te sien as ‘n geleentheid vir bespreking, het Hy hom gesien
as ‘n geleentheid vir God. Waarom is hy blind? “... sodat die werke wat God
doen, in hom gesien sal kan word”, sê Jesus – Joh. 9:3. Die man is nie ‘n slagoffer
van sonde of die noodlot nie. Hy is ‘n wonderwerk van God wat wag om te gebeur!
Jesus het hom nie ‘n etiket gegee nie. Hy het hom gehelp. Jesus was meer begaan
oor die blinde man se toekoms as sy verlede.
Met wie identifiseer jy in hierdie verhaal? Sommige van ons sal identifiseer met
die blindgeborene. Jy is die een oor wie mense praat. Jy dra die etiket. Indien wel,
leer dan wat hierdie man geleer het: Wanneer almal jou etiketteer en jou verwerp,
weet dat Jesus jou aanvaar. Wanneer almal jou verlaat, eis Hy jou op. Wanneer
niemand anders vir jou tyd het nie, sal Jesus jou die woorde van die ewige lewe gee.
Ander sal weer identifiseer met die toeskouers. Jy het geoordeel. Jy het die etiket
opgeplak. Jy het die skuld verklaar voordat jy die feite geken het. As dit so is, gaan
dan terug na Johannes 9:4 en begryp wat die werk van God is:
“So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het...”
Wat is die werk van God? Om mense te aanvaar. Hulle lief te hê eerder as te oordeel.
Vir hulle om te gee, eerder as om te oordeel.
Om na die inhoud te kyk voor jy die etiket opplak.
Ernest