Min van ons was ooit in ‘n dieper kloof as Petrus. Johannes 18:25-27:
“Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur
vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?” Hy het dit ontken
en gesê: “”Nee, ek is nie!” Een van die hoëpriester se slawe wat familie was
van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die
tuin by Hom gesien nie?” Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar
‘n haan gekraai.”

Na die gebeure in die tuin waar Jesus gevange geneem is, vertel Lukas vir ons
in Lukas 22:54, dat Petrus vir Jesus en die soldate op ‘n afstand gevolg het.
Nie te naby nie, maar ook nie te ver nie. Naby genoeg om Hom te kan sien,
maar nie naby genoeg om saam met Hom gesien te word nie. Later sluit hy
aan by die vuur waar hy homself warm maak.
Hier val Petrus, in die verloëning van Jesus...

As ons val kan ons maak of dit niks was nie. Ons kan dit ontken of verdraai.
Of ons kan dit vierkantig in die oë kyk. Lukas voeg ‘n angswekkende sin by sy
verslag van die gebeure: Toe die haan kraai, het die Here “... omgedraai en
Petrus aangekyk...” – Lukas 22:61. Die haan herinner Petrus aan Jesus se
waarskuwing. Petrus weet nou hy kan hierdie val nie geheim hou nie.
Hebreërs 4:13: “Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie;
alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.”

Ons kan niks vir God geheim hou nie. Belydenis is nie om vir God te vertel
wat ons gedoen het nie. Hy weet dit, genadiglik, reeds! Anders sou ons dit
wou wegsteek. Belydenis is eenvoudig om met God saam te stem dat ons
verkeerd gedoen het. Het Petrus dit gedoen? Lukas vertel: “... Toe val dit
Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai
sal jy My drie maal verloën.” En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik
gehuil.” Elke traan ‘n belydenis. Die Here kan ons vry maak as ons net eers
erken ons is verkeerd en het gesondig. Hoe kan God genees wat ons ontken?
Hoe kan God aanraak wat ons bedek? Hoe kan ons gemeenskap met God hê
wanneer ons dink ons kan dinge geheim hou? Hoe kan God ons vergewe as
ons nie ons skuld erken en bely nie?

As Petrus nie die skuld in die binneplaas beleef het nie, en bely het nie,
sou hy nooit die genade van pinkster kon verkondig nie. Tussen die vuur en
pinkster, en Petrus se briewe wat hy geskryf het vir ons om te lees, lê twee
gebeurtenisse. Petrus se trane van berou en belydenis, en Jesus se kruis.
Albei is noodsaaklik. Vermeng die trane van belydenis met die kruis van die
Verlosser, en die gevolg is vreugdevolle vergifnis, en lewe!

Ernest