Dikwels sukkel ons om God se werking in ons lewens raak te sien.
In Matteus 11 lees ons van Johannes die Doper,
en sy twyfel terwyl hy in die tronk sit!
Hy stuur boodskappers na Jesus om Hom te vra:
“Is U die Een wat sou kom,
of moet ons ‘n ander een verwag?”
Jesus antwoord nie die vraag direk nie, maar laat weet:
“Gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”
Johannes was seker ontnugter!
Hy het God sy lewe lank na die beste van sy vermoë gevolg!
Hy sit juis daarom in die tronk!
Waarom kom red Jesus hom nie?
‘n Ander volgeling van Jesus, Petrus, beland ook in die tronk.
In Handelinge 12 sien ons dat die Here vir hom ‘n engel gestuur het.
Maar nie vir Johannes nie.
Hy is onthoof!
In Johannes 20 is die dissipels bymekaar.
Jesus is gekruisig en het reeds opgestaan.
Hulle vertel vir Tomas dat hulle Hom gesien het.
“Nee wat, ek glo dit nie”, sê hy.
Maar later staan Jesus tussen hulle,
en Hy laat Tomas aan Sy wonde vat.
Wanneer Tomas uitroep: “ My Here en my God!”,
dan antwoord Jesus:
“Gelukkig is die wat nie gesien het nie en tog glo.”
Dit kom voor asof Hy by die een ingryp, en by die ander nie!
Wonder jy ook waarom Hy nie by jou ingryp nie?
Waarom Hy toelaat dat dinge in jou lewe skeef loop?
Raak jy bitter daaroor?
Is dit Hy wat dit laat skeefloop…?
Vertroue in die Here vra dat ons die pad volhardend sal loop,
al gaan dit baie moeilik.
Ons moet ons afvra:
Waarom het ek die Here lief?
Oor wat Hy vir my gee of nie gee nie?
Vir my doen of nie doen nie?
Of het ek Hom lief eenvoudig oor Wie Hy is!?
Handelinge 17:27-28 sê:
“Hy is nie vêr van enige een van ons af nie,
want deur Hom lewe ons, beweeg ons, en bestaan ons.”
Sonder Hom sou jy niks kon doen nie, nie eers bestaan nie!
Die Here is nie vêr van jou af nie!
Die Here is by jou.
Besef dit.
Leef vir Hom, bloot omdat Hy is Wie Hy is!
Nie vir wat Hy vir jou kan doen nie……
Ernest