"In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie,
sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie."
- Johannes 14:2.
Ons tree soms op asof die Christelike lewe 'n plesiervaart is. Ons het min
brandstof maar baie vermaak. Ons is meer begaan oor om in die mode te
wees, as om voorbereid te wees vir die lewensreis saam met die Here,
en ter wille van die Here. Ons bestee meer aandag aan kos en klere as aan
die oorlewing van die reis op geestelike vlak.
Ons dink min aan die bestemming en eerder aan die genieting. Ons gee
dan ook dikwels vir God die skuld vir die gemors waarin ons ons bevind.
Maar dit is nie God se skuld nie. As ons onvoorbereid uitgaan op die
lewensreis is dit ten spyte van, nie as gevolg van God nie. Hy het vir ons
tot in die fynste besonderhede opdragte gegee vir die lewensreis.
Sy Woord is ons kaart. Die Heilige Gees is ons kompas. Hy het die roete
vir ons uiteengesit. Hy het die bakens beskryf waarvoor ons moet oplet.
Hy het selfs vir ons gesê wat om saam te neem op die lewensreis:
Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
getrouheid, nederigheid en selfbeheersing - Gal. 5:22.
Die merkwaardigste van alles: Hy het voor ons uitgegaan, en Hy gaan
saam met ons! En as ons moeg word, hoef ons net na sy stem te luister.
Hy het spesiale beloftes om ons op koers te hou. Bogenoemde belofte
van Johannes 14:2 is een van die wonderlikste beloftes:
In die huis van my Vader is daar baie woonplek. Dit is sprekend van
God se sorg. Dit is nie enige huis nie, maar ons Vader se huis!
Plek by Hom, vir jou persoonlik. Die wêreld waarin ons leef is nie ons
eintlike en ewige woning nie.
Ons lewe egter dikwels op ons lewensreis asof ons altyd hier gaan leef.
Ons lewe nie gereed om ons plek te gaan vul wat vir ons voorberei word
nie. Ons aanvaar ons het baie tyd. Dit is 'n gevaarlike aanname.
Psalm 90:12 sê in Die Lewende Bybel: "Help ons dan om te besef
hoe kort ons tyd op aarde is sodat ons verstandig kan lewe."
Vrees pak mense as hulle besef die einde is naby en hulle is nie
gereed nie. Watter voorrade dra jy saam op hierdie lewensreis?
Sal dit enige waarde hê wanneer jy die Vader se huis bereik?
Wat saak maak... is of die Vader jou ken as sy kind!
Dit is nie wat jy het nie. Dit is wie jy in Hom is.
Is jy gereed om die Vader te ontmoet?
Ernest