“Hulle sal spot en sê: “En wat het nou geword van die belofte
van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog
net soos dit was” – 2 Petrus 3:4.
Nêrens ontbreek die Bybel aan realisme nie. Elke menslike sug,
elke menslike klagte, elke vertwyfeling, elke weifeling, elke angs,
elke teleurstelling waaraan ons kan dink, elke ongeloof en
mislukking, elke afwysing en spot:
dit staan alles sonder skuiling opgeteken in die Woord.
“Niks is nuut nie”... sê ons dikwels oor die waarhede van die lewe.
God het al alle kritiek teen Hom ervaar... niks is nuut nie.
Met respek gesê: God kan kritiek vat. Hy weet ons ken maar ten dele.
Ook ten opsigte van dit wat nog ontdek kan word.
In die bogenoemde woorde van 2 Petrus 3:4 word die eeue oue
retoriese vraag uitgespel: “Waar bly God? Hoekom kom die Here nie?
Wat van al sy beloftes? Ons vaders is al dood en niks verander nie...
Petrus moes dié vrae en klagtes seker baie hoor. Ons vra dit ook.
Dikwels omdat alles soms so tydelik lyk. So onseker en verganklik.
So uitsigloos. Maar God hou Hom nie besig met oppervlakkige
denke en maklike antwoorde om ons “tevrede” te hou nie.
Dink daaroor: Hy moet Hom in menslike terme vanuit die ewigheid
aan ons bekend maak. Ons sukkel met die letters en die leestekens
daarvan. Wat ons nog moet en sal ontdek het God reeds in die
ewigheid met woord geskep!
Hoeveel appels moes immers op sir Isaac Newton se kop geval het
voor hy die boodskap van die wet van swaartekrag gekry het?
Hoeveel donderstorms het Benjamin Franklin beleef voordat hy
gewaag het om sy vlieër in ‘n donderstorm te laat opgaan om
elektriese krag te herlei, en bewus geword het van die ontsaglike
lading van ‘n bliksemstraal?
En ons, hoeveel maal hoor ons die donder in die weer en trek ons
skouers op en dink “dit is niks ongewoons nie”.
Dit val op die skouers van ‘n Benjamin Franklin wat dit buite
waag met sy vlieër.
Dit val nou op ons skouers om dit buite te waag met die geloof
en op te kyk na Bo. Dit val op gelowiges se skouers om in ons
wêreld van realisme op te staan en te sê: Maar Christus het die
wêreld nie uitgelos nie. Hy kom weer! Hy is inderdaad komende!
Hy kom elke dag! God is teenwoordig in alles wat gebeur.
So kan ons die lig van vreugde in sy teenwoordigheid uitstraal.
So leef ons realisties in God se wêreld.
Ernest