“Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie?
Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” Maar Jesus
het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder ‘n
eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die
Seun van God?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir
julle: Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die
regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die
wolke van die hemel”. Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging
sy klere...” – Matteus 26:62-65.

Dit was die groot vraag wat die Koning moes antwoord:
“Is jy die Christus, die Seun van God?” Dit is seker die grootste vraag
waarom die evangelie draai: die geboorte, die leer van Jesus aan die skare,
die wonders, die versoening, die opstanding en die wederkoms. Alles
staan of val by hierdie vraag. As Jesus nie is Wie Hy gesê het Hy is nie,
kan ons maar alle kerklike aktiwiteite laat staan en deure sluit. Ons kan
maar elke fees-liggie uitdoof.

Maar Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.” Hy is die Seun van God.
Later sê Hy aan Pilatus of dieselfde wyse bedaard en in beheer: Ja,
maar My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. Pilatus het kalm gebly.
Dalk het iets van Romeinse geregtigheid tot hom deurgedring.
Of ‘n aanvoeling dat hy met iemand besonders te doen het. Maar die
hoëpriester het sy klere geskeur in verontwaardiging en gesê:
“Hy het God gelaster...” Verder het die Jode op Hom gespoeg en
Hom met die vuis geslaan en Hom geklap, volgens vers 67.

Ook dit het nie opgehou nie. Die kritiek op Hom. Die vrae van
beperkte menslike denke. Die onbegrip. Die moderne argumente
teen Hom het nou meer “bedaard en beskaafd” geraak, as met die
hoëpriester en die Jode op daardie dag, wat Hom uiteindelik sou
kruisig. Mens wonder of die reaksie hedendaags dalk nie meer
verwerplik is as die van die hoëpriester en die Jode van Jesus se
tyd nie.

Maar Jesus het geantwoord. En ons het ‘n keuse. Ons kan Hom
verwerp, en die verganklike aardse bestaan omhels as die begin
en die einde. Of ons aanvaar Jesus as die Seun van die God en
ons omhels God, en lewe by Hom in ewigheid.

Ernest