Die lewe is afwisseling van vreugde en smart. En baie wisseling tussenin.
Jesus praat merkwaardige woorde in Lukas 7:31-35: “Verder het Jesus gesê:
“Waarmee sal Ek die mense van hierdie geslag vergelyk? Soos wie is hulle?
Hulle is net soos kinders wat op die markplein sit en vir mekaar roep:
Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie! Ons het ‘n
treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie! Johannes die Doper het gekom
en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: “Hy is van die duiwel
besete.” Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink, en julle sê:
“Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.”
Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”
Dit laat ons dink... Soos wie is óns? Lees eintlik hierdie woorde weer en
weer voor jy verder lees...
Jesus maak hiermee duidelik dat die Fariseërs nie geweet het wat hulle
wou “speel” nie. Toe Johannes die Doper gekom het, het hulle gesê hy is
‘n askeet, te ernstig en sy lied te treurig. Hy dra klere van vel en leef van
die veld. Hy is van die duiwel besete. Maar toe Jesus kom en Hy leef sáám
met mense, alle mense, en is selfs by feeste, was sy lied weer “te vrolik”.
Volgens hulle was Hy te losbandig, “’n Vraat en ‘n wynsuiper.”
Met ander woorde, sê Jesus... wát wil julle hê? Behalwe om
op die kantlyn van die lewe te staan en te kritiseer?
Dit is dikwels waar van die mens. Daar is baie kritiek, maar min wil
betrokke raak. Min wil in praktyk vir ‘n arm kind brood gee, of net saam
‘n uitbundige lied van vreugde sing omdat ons leef! Dink aan Paulus:
Hy het die hoogte en laagtepunte saam met God deurleef. Wanneer die
fluite van God vrolik gespeel het, het hy in die volle vreugde van die liefde
van Christus gedans. En wanneer die fluite van smart en swaarkry gespeel
het, het hy daarin berusting gevind dat hy in die lyding van Christus moes
deel. Hy het getreur, maar altyd met hoop.
Soms klink dit vir ons asof die musiek stil geword het, maar God hou
nooit op speel nie. Soms speel Hy ‘n vrolike lied van diens en die geniet
van elke dag. Soms roep Hy ons tot diepgaande besinning met treurliedere.
Die lewe is afwisseling van vreugde en smart. Soms is ons saam met Jesus
by die bruilof waar Hy water in wyn verander. Ander kere is ons saam met
Johannes die Doper in die tronk. Maar altyd speel God se fluitmusiek,
roerend van emosie en borrelend van blydskap. Luister na God se lied.
Hy leef! Leef saam!
Lees weer bogenoemde Lukas 7:31-35.
God leef! Hy is die Lewende God! Leef saam!
Ernest