Moses se ontmoetings met God het ‘n verstommende effek
in sy eie lewe gehad. Sy gesig het so begin blink dat die Israeliete
hom later nie meer kon aankyk nie. Merkwaardig! Lees gerus
Eksodus 34:28-35. God se heiligheid gee af op diegene wat in sy
teenwoordigheid staan, en leef. Dit kan ook nie anders nie.
Kontak met die heilige God verander elkeen wat dit ervaar.
Na ‘n ontmoeting met die lewende God is niks ooit weer dieselfde
nie. Die Israeliete kon nie anders nie as om te sien dat Moses in die
teenwoordigheid was van die lewende God! Die Israeliete kon elke
keer waarneem wanneer Moses in God se teenwoordigheid was.
Nie eers die sluier oor sy kop kon dit verberg nie. Al die Israeliete
het daaroor gepraat.
God is heilig, en mense wie in sy teenwoordigheid staan,
word heilig. Hulle verander nuut, want die heilige God laat hulle
opstaan uit die stof van hulle eie onwaardigheid en sonde. God tel
hulle op hulle voete en laat hulle as nuwe mense voor Hom staan.
God stuur hulle nie met leë hande weg nie. Hy oorlaai hulle met
sy gawes en sy heiligheid! Dit is wat God ook met jou wil doen!
Kan ander mense sien dat God se heiligheid ook op jou afgee?
Kan hulle die ligglans in jou lewe sien? Is die verskil van God wat
nou in jou lewe is, waarneembaar? Niemand wat voor God staan
en bewus geword het van wie Hy regtig is, kan onveranderd van
Hom wegstap nie. Ook nie jy nie. God se heiligheid oorweldig ons!
Dit gee af op almal wat dit waag om na Hom toe te kom.
Gaan staan nou vandag voor die heilige God. Laat toe dat sy
heerlikheid jou oorspoel. Raak vandag opnuut bewus van sy almag,
sy krag, sy heiligheid. Buig voor Hom. Aanbid. Bely.
Staan met eerbied op voor Hom in totale oorgawe en toewyding.
Beleef sy genade. Stap dan as nuwe mens in die wêreld in as God
se verteenwoordiger. Laat sy ligglans jou die hele dag lank oorspoel!
Ernest.