Ons leef nou sonder sluiers in God se heilige teenwoordigheid.
Lees 2 Korintiërs 3 hieroor. Om voor God te staan is ‘n lewens-
veranderende ervaring. Ons het dit gesien in die lewe van Moses
en Petrus. God se heiligheid verander ook ons hele lewe.
Ons hoef gelukkig nie langer, soos Moses, met sluiers rond te
loop om God se heiligheid te verberg nie. Nou, in die nuwe
bedeling van die Heilige Gees, is alle sluiers weggeneem.
Nou kan en moet ons met ‘n ongesluierde gesig na God kyk.
Sy heiligheid moet juis nou op ons gesig en in ons lewe wys,
deur die werk van die Heilige Gees.

Die nuwe bedeling waarin ons nou leef, sedert die koms van
Jesus en die Heilige Gees, oortref verreweg die ou bedeling.
Die heiligheid van God moet in jou lewe gesien en ervaar word
deur mense om jou. God se Gees laat dit oorstroom na ander.
Mense moet sien en ervaar ons leef in die teenwoordigheid
van die heilige God.

Heiligheid is egter nie familiariteit nie. God se heiligheid laat jou
steeds in sy teenwoordigheid buig, en jy doen dit nou met vreugde!
Hoe meer jy besef wie God is en wie jy is, hoe meer word jou
ontmoetings met Hom belangriker en heiliger. Natuurlik is God nie
ontoeganklik en veraf nie. Hoegenaamd nie! Maar Hy is God en jy
‘n mens. Al is Hy jou Vader en jy sy kind. God se heiligheid maak jou
nederig en ootmoedig. Jou woorde is met agting gelaai. Jy aanbid,
prys, loof. Leef jy met eerbied en respek in God se teenwoordigheid?

Tog lees ons in Eksodus van Moses se merkwaardige vriendskap
met God! En Moses ontdek ook dat dit geen geringe saak is om ‘n
vriend van die Allerhoogste te wees nie. Op ‘n dag het Moses gevra
om God te sien. Hy moes hoor dit is nie moontlik nie. Niemand kan
God sien en bly leef nie. Ware vriendskap met God maak jou nooit
voorbarig nie, al ken jy Hom op ‘n persoonlike manier. Dit maak jou
ook nie beterweterig oor God by ander mense nie. Ware vriende
van God is nederig voor Hom en tussen ander mense.

Vriende van God doen God se wil. Jesus het op ‘n dag vir sy dissipels
gesê dat Hy ons sy vriende noem as ons alles doen wat Hy sê.
As ons in God se vriendekring wil plek kry, moet ons aan Hom
gehoorsaam wees. Gaan leef só in sy heilige teenwoordigheid.

Ernest