Die heilige God is ook liefde, en Hy is glad nie spaarsaam
daarmee nie! God deel al sy heilige gawes uitbundig met
ons wat Hom aanbid. Strome lewende water!

As God sê Hy is lief vir die wêreld, wys Hy dit deur sy eie
Seun na ons toe te stuur. Jesus wys sy liefde deur sy eie
lewe vir ons weg te gee, sodat ons met die heilige God
versoen kan wees. Wanneer God ons red, red Hy ons in
totaliteit. Hy gee nie net lewe nie, maar ewige lewe!
Wanneer Christus sê Hy los sy mense nie alleen nie,
bedoel Hy dit. Hy stuur die Heilige Gees om by elkeen
van ons te kom bly, in ons! Wanneer God sê Hy maak
ons heilig, dan verander Hy ons hele lewe in ‘n heiligdom!

God se oorvloed heiligheid is ‘n oorvloed goedheid.
Die Allerheilige God spesialiseer nie in dinge soos straf,
of oordeel, of haat nie. Dan was ons in ewige moeilikheid
tot die ewige dood. Nee. Liefde en genade en heiligheid is
wat God die graagste weggee. Daarom bevind ons onsself
op die heel beste plek in die heelal wanneer ons met God
te doen het. Dan staan ons voor Hom wat in oorvloed red,
nuut maak en heilig maak! In oorvloed!

Die Heilige Gees is die Een wat ons heilig laat leef.
Hy stry die stryd van geloof in en deur jou. Hy laat jou
volhard in die geloof. Hy laat jou op jou pos bly tot die
einde toe. Die Heilige Gees maak heiliges se lewe heilig.
Hy maak elke mens in wie Hy woon ‘n woonplek van die
Allerhoogste! En God se woonplek is heilig. Daarom is jy
vir God heilig, uitgekies en afgesonder om vir Hom te leef.
Die Heilige Gees vra jou hele lewe!

Hy maak jou ‘n tempel van God:
“Ons is immers die tempel van die lewende God.” –
2 Kor. 6:16.
Hou vas aan hierdie beloftes van God vir jou!
“Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons
dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig,
en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom
toewy.” – 2 Kor. 7:1.

Ernest