Paulus spreek gereeld die gemeentes aan wie hy sy briewe skryf
aan as “heiliges”. Dit is wat die Griekse woord beteken. Dit word vertaal
met die betekenis van “hulle wat aan God behoort en in Jesus Christus glo”.
So sê Efesiërs 1:1 byvoorbeeld: “...Aan almal in Efese wat aan God behoort
en in Jesus Christus glo.”

Dit is ook ons! “Heiliges” is nie net ‘n groepie Christene wat ‘n
“heilige kwaliteit” het nie, en daarom kwalifiseer om heilig te wees nie.
Dit staan nie teenoor “gewone gelowiges” nie. Dit gaan nie oor die goeie
dade van bepaalde Christene nie. Besef dit: Alle Christene is heiliges,
nie omdat hulle so voorbeeldig lewe nie, of oulike mense is nie, máár
omdat God so sê! God reken elkeen wat in sy Seun Jesus Christus glo
tot heilige! Daarom kry ons dikwels in die aanhef van Paulus se briewe
die vertaling van heiliges as: “hulle wat aan God behoort en in Jesus
Christus glo. Jy is ‘n heilige!... soms ten spyte van die manier hoe jy lewe.

God vra dat ons reg sal lewe volgens sy wil. Ons leefstyl moet nou pas
by ons nuwe status as heiliges, in God se oë. Hoe kry ons dit reg om
heilig te leef? Die geheim lê daarin om te besef dat ons dit nooit uit
ons eie kan regkry nie. Ons kan nie op eie stoom heiliger en heiliger
word nie.

Heiligheid... kan ons bloot ontvang as geskenk uit God se hand.
Hy maak jou heilig en gee boonop die gawe wat dit dan vir jou moontlik
maak om heilig te lewe. Jy laat eenvoudig toe dat die krag van die Heilige
Gees voortdurend deur jou lewe spoel. Jy rus in God se krag en ervaar
so jou heiligheid.

Die Heilige Gees is die Een wat jou heilig laat lewe. Hy stry die stryd van
geloof in en deur jou! Hy laat jou volhard en op jou pos bly tot die einde
toe. God se Gees maak heiliges se lewe heilig! Hy kom woon in jou en jy
is nou ‘n tempel van die Heilige Gees! Waar die Gees sy intrek neem
verander alles! Jou lewe word ‘n woonplek van die Allerhoogste God!

God se woonplek is heilig! Daarom verwyder die Gees nou die sonde
uit jou lewe. Hy laat jou al hoe meer soos ‘n tempel, ‘n woonplek van
God, lyk! Want jy is dit! Daarom vra die Heilige Gees jou lewe in sy hand!
Dit beteken dat jy nou die Heilige Gees vertrou om jou lewe te omvorm,
soos God dit wil hê. Net die Gees kan!
Gee jouself... in die hande van die Gees van God.
Jy is ‘n heilige woonplek vir die heilige God,
jy wat “aan God behoort en in Jesus Christus glo”.

Ernest