“As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens
die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken
het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle
ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers
geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig”. – 1 Petrus 1:14.

Wanneer God in sy kinders se lewe werk, kom daar verandering.
Hy doen dit deur die Heilige Gees.
Waar die Heilige Gees teenwoordig is gebeur groot dinge. Sy doel
is om almal in wie Hy werk heilig te laat lewe! Hy sorg dat heiliges
se lewe ook heilig geléwe word.

Hoe lyk ‘n heilige lewe?
Heiliges is gehoorsaam aan God. Hulle buig voor sy wil.
Heiliges het ‘n passie vir God. Hulle soek sy eer en heerlikheid
met alles in hulle lewe. Niks is vir hulle belangriker as God nie,
en hulle leef dit!
Heiliges leef “eenkant”. Hulle is nie in die hoofstroom van sonde
en plesier nie, al maak hulle ook foute, en doen self ook sonde.
Hulle weet dit kos ‘n prys om God te volg. Hulle betaal die prys
met vreugde in Hom. Hulle leef nie in sinnelose geraas en
hardloop agter die wêreld aan nie. Hulle is nie selfsugtig,
hoogmoedig en oorvol van hulleself en eiebelang nie.
Máár hulle is verseker ín die wêreld, vir die Here,... sout en lig,
en suurdeeg, ter wille van God en sy koninkryk.
Heiliges aanbid God. Hulle lewe, gebede, en hulle dade is
lewende offers. Hulle álles is gerig op God en sy eer.
Heiliges is mense van aksie. Hulle lewe hulle status as nuwe
mense in Christus uit. Heiligheid wys konkreet in hulle lewe.
Mens sien dit altyd in die lewe van God se mense.

Ook in ons lewe moet God se heiligheid elke dag die oorhand hê.
Ander moet elke dag kan sien dat God in jou lewe is, deur die
vrug van die Heilige Gees (Gal. 5:22-23) wat jy dra.
Onthou weer bogenoemde 1 Petrus 1:14 se opdrag:
“...Leef heilig, want Ek is heilig”.

Ernest.