Ons kla baie oor ons eie geestelike flouheid. Ons beleef ons eie
geloof as onder gemiddeld, te min, te koud. Ons twyfel dikwels.
Ons voel ons doen te min te laat. Haat, as ons moet liefhê. Skinder,
as ons moet stilbly. Veroordeel, wanneer ons moet vergeef. Sit met
gevoude arms, as ons ander se wonde moet verbind. Slaap, as ons
wakker moet wees. Suinig, as ons moet uitdeel. Bid te min en te
selfsugtig. Getuig te min. Soos Paulus... worstel ons, en die goeie
dinge wat ons wil doen, doen ons nie ... en die lelike dinge wat ons
nié wil doen nie, doen ons... Ons voel dikwels sonde is ons baas...
Ons stry en stry en baklei daarteen, en dan val ons weer ‘n keer,
in gedagtes, woorde, dade...
Heiliges worstel altyd met hulle onheiligheid. Lees dit weer.
Heiliges worstel altyd met hulle onheiligheid. Elkeen van ons wat
kinders van God is, wat aan Hom behoort en in Jesus Christus glo.
Ons worstel altyd daarmee! Jy sal nie ‘n opregte kind van God
raakloop wat volkome tevrede is met sy Christelike lewe nie.
Toegewyde Christene smag altyd na nóg meer toewyding.
Gelowiges wat aan die brand is vir die Here soek altyd nog
meer hout om daardie vuur te stook. Nooit kan God se
kinders te heilig lewe nie. Hulle verlang altyd na nog meer.
Ken jy ook die soort versugtinge?
Voel jy verleë oor jou eie stuk onheiligheid?
Voel jy dat die sonde jou soos ‘n skaduwee volg?
Skaam oor verbroude kanse in jou lewe?
Neem jou onheiligheid vandag nog na Jesus Christus toe.
Hy, die Heilige, neem jou onheiligheid weg. Hy, en Hy alleen,
kan jou vergeef en jou nuut maak. Gryp dit met albei hande vas.
Laat Christus se heiligheid jou vandag oorspoel.
Helder Camera het dit mooi gestel:
“Daar is natuurlik nie net een definisie van heiligheid nie.
Maar ék hou daarvan om te dink “heilig” beteken dat ‘n mens
elke liewe keer dat jy geval het, weer opstaan – met nederigheid,
en vreugde... en dan vir die Here sê: “Ja, Here, ek het al ‘n duisend
keer geval. Maar, aan U alleen te danke, kon ek ook ‘n
duisend en een keer opstaan!”
Ons sê: Dankie Here!
Ernest