Integriteit word gewoonlik deur ander mense bepaal.
Mense sê iemand het integriteit en staaf dit dan met
“die regte dade” van die persoon.
Meeste mense aanvaar dit dan so. Ons persepsies oor
mekaar geld dan as barometer oor iemand se integriteit.
Dit is juis hier waar die probleem lê, want ons weet mos
hoe feilbaar ons persepsies kan wees.
Neem maar al die stereotipes oor, sê maar, tieners,
vroue-motorbestuurders, oumense, verskillende rasse...
Die meeste van ons opvattings is dikwels nie waar nie.
Ons het growwe veralgemenings. Ons vorm maklik uit
die vuis menings oor alles en almal rondom ons.
Ons meetinstrumente is dan foutief in terme van integriteit.
Wie dit het, en wie nie. Wat moet dus ons meetinstrument
wees vir integriteit? Ons belangrikste rigsnoer is die Woord
van God! Die Bybel!
God lê in sy Woord baie belangrike riglyne neer vir ‘n lewe
van integriteit. Ons kan nie anders as om na die Bybel te
gaan nie, om te bepaal hoe integriteit en ‘n lewe van
integriteit lyk.
Psalm 119:105: “U woord is die lamp wat my die weg wys,
die lig op my pad.”
Integriteit is nie iets wat iemand in die oë van ander mense
verdien nie. Verseker nie in die eerste plek nie.
Integriteit hang in die eerste plek saam met ‘n lewe van
toewyding aan God. God se eer, die heiliging van sy Naam,
en ‘n lewe vir Hom, onder alle omstandighede... dít bring
integriteit voor Hom!
Vir ‘n Christen is God se wil en God se goedkeuring al wat
regtig saak maak in terme van integriteit voor Hom. Dinge
soos die rol van persoonlike gebed, en ‘n lewe van toewyding
aan Hom, waar niemand jou raaksien nie, dit speel ‘n groot rol
in ware integriteit.
Integriteit maak dat ons konsekwent Christene is wat God
se wil uitleef, in die kleinste detail van die dag.
Ernest