Integriteit is nie ‘n status nie. Dit is ‘n werkwoord. Jy doen dit!
Dit is ‘n aksie. ‘n Leefwyse! Integriteit is ‘n lewe vol bakens van
gehoorsaamheid aan God se wil.
Dit begin heel eenvoudig op jou knieë.
Wanneer jy buig voor God. Dan is jy op die beste plek denkbaar.
Dan is jy by die enigste Persoon in die heelal wat die regte soort
integriteit uitdeel. Integriteit vra ‘n lewe van klein wees voor God.
Sy wil is altyd eerste en jy is op sy koers. Dan stap jy die pad van
God se integriteit wat Hy gee.
Natuurlik is dit nie ‘n maklike pad in hierdie wêreld nie. Maar op
hierdie pad wag seën en vreugde wat God gee. God self is op
hierdie pad. En jy is saam met Hom. Sy goedheid en krag is met
hulle wat saam-met-Hom waag. Sy ware verteenwoordigers.
Integriteit het nie vir die Here Jesus te make met die applous
van ander mense nie. Daarom het Hy in Matteus 6:1-18 so sterk
te velde getrek teen die “godsdienstigheid” van die geestelike
leiers van sy tyd. Hulle het al die regte godsdienstige bewegings
gemaak, maar op die verkeerde plek erkenning gesoek. By mense,
in plaas van by God.
Net God kan integriteit uitdeel. Net Hy weet wie jy is wanneer jy
totaal alleen is. Wanneer niemand jou sien of hoor nie. Wat God
weet en wat God dink, is al wat tel in terme van ware integriteit.
Daarom moet ons baie goed nadink oor hoekom ons godsdienstige
dinge doen. Wil ons mense beïndruk, of is ons in opregtheid voor
God?
Daarom, gaan na jou stil-wees plek toe, sluit jou af van die wêreld,
wees op jou knieë voor die Here, waar niemand jou sien of hoor nie.
Daar gaan jy die integriteit kry wat jy daarbuite tot eer van God
moet gaan leef.
Ernest