Dissipline beteken nie eindelose reëls en regulasies nie.
Vir integriteit is innerlike dissipline nodig. Sonder innerlike
dissipline in ons geestelike lewe is ons gedoem tot
middelmatigheid. Dan val ons oor elke klip in die pad.
Ons moet innerlik gedissiplineerd die besluit neem om
die Here voluit te dien, en dan moet ons daarin volhard.
Dit vra dat ons elke dag sal vasbyt in die Here se krag.

Hierdie innerlike dissipline vra ook om ‘n dagprogram so
te organiseer dat jy op jou knieë by die Here kan kom.
Ten spyte van “nuwe” krisisse en onverwagte gebeure,
en dat ons dikwels doodmoeg is, lê integriteit ook daarin
om juis dan by die belangrikste Persoon in jou lewe uit te
kom. Daar kom soms min van ‘n gesonde en sterk geloof
in ons lewe tereg omdat ons program eenvoudig te vol is.
Ons is besiger as wat God wil hê ons moet wees.

Ons is te besig vir Hom. Ons moet eenvoudig iets hieraan
doen en besluit “genoeg is genoeg”. As ons nie self ingryp
in terme van innerlike dissipline nie, gaan ons nie daarin
slaag om ‘n lewe van integriteit te lewe nie.

Ons grootste skuld aan onsself is prima tyd saam met God.
Ons moet nie hierdie “geleentheid van ‘n leeftyd” oomblikke
verbyleef nie. Dit is in daardie tye saam met Hom wat die
Here ons slyp en vorm om sy soort mense te wees wat
met integriteit lewe.

Ernest