Integriteit laat nie iemand sommer net in die steek nie.
Ons moenie die hemel en die aarde beloof en nie eers
opdaag vir wat ons gesê of gereël het nie. Mense laat
mekaar dikwels gruwelik in die steek. Van Petrus se tyd
af beleef ons dikwels die woorde: “Nee ek ken die Man
van geen kant af nie”. Ons verloën Jesus met ons optrede,
ook wanneer ons kinders van die Here verloën en in die
steek laat. Sodra mense onder druk kom... soos die
Engelse spreekwoord sê: “United we stand, divided we fall”.

Ons moet konsekwent leef. Ons kan nie Sondag-mense en
week-mense wees nie. Ons kan nie Sondag ja sê en ja sing,
en Maandag leef asof geloof geen deel van ons lewe is nie.
Ons moet ons staan vir die Here staan! Al is dit soms baie
moeilik. Die Here soek integriteit by elkeen wat sy Naam
bely. Dit is nie ‘n luukse wat ‘n paar “sterk” gelowiges
beskore is nie. Elkeen wat die Naam van die Here bely,
wat bely dat hy of sy ‘n Christen is, moet integriteit hê.
Jesus se eer en Naam is op die spel by elke Christen.

Integriteit mense skroom nie om Jesus se Naam tot sy
eer op hulle lippe te neem nie. Lees gerus Matteus 10
hieroor. Vers 7 sê: “Gaan verkondig: “Die koninkryk van
die hemel het naby gekom.” Dit sal nie altyd maklik wees
nie, want vers 16 sê: “Onthou: “Ek stuur julle soos skape
tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg
soos duiwe.” Vers 18 sê ons sal selfs voor mense met gesag
moet getuig: “Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle...
van My te getuig.”

‘n Jong seun het met groot vrymoedigheid van Jesus getuig.
‘n Ouer volwasse man vra hom op ‘n dag: “Is jy nooit bang
om dit te doen nie?” Sy antwoord: “Ja oom, ek is partykeer
vrek bang. As ek afkyk sien ek my bene bewe. Maar ek sien
ook ek staan op ‘n rots wat nooit bewe nie. Al bewe my bene,
God se rots waarop ek staan bewe nooit nie.”

Praat van geloof en om konsekwent te getuig, met integriteit!
Die kerk is arm aan sulke soort mense. Ons is nie konsekwent
in integriteit nie.
Staan op vir Jesus! Leef en getuig!
Met die integriteit wat Hy gee!

Ernest