Ons leef in ‘n wêreld wat oorstroom word deur woorde en
boodskappe. Virtuele kommunikasie is op almal se lippe en
vingerpunte. Selfone, Facebook, Watsap, Instagram, ook
waar ons met fotos praat, en noem maar op... mense het
woorde en nogmaals woorde vir ander mense en oor ander
mense.
Integriteit vra van ons om mooi te dink voor ons praat of skryf.
Ons moet weer die verlore kuns ontdek om mooi te dink voor
ons praat of skryf-praat. Of foto’s praat. Om met integriteit te
praat is om mooi te dink voor ons praat en dan reg en opreg te
praat. Beter woorde, hoopvolle woorde, opbouende woorde,
wat mense se lewe verryk eerder as om dit af te breek.
Integriteit dink mooi voor dit praat.
Ons kan dit nie genoeg sê nie.
In Spreuke hoor ons dikwels dat ons mooi moet dink voor ons
iets sê. Ons moet ekonomiese woord gebruikers wees. Dan dink
ons mooi voor ons praat.
Kyk net:
Woorde in die mond van ‘n dwaas is soos ‘n pad wat tot
ondergang lei – Spr. 10:14.
‘n Stortvloed woorde lei gou tot verkeerde dinge – Spr. 10:19.
Dwase woorde berokken ander mense groot skade – Spr. 11:9.
Mense wat kwaadpraat, lap dikwels geheime uit – Spr. 11:13.
Aan die ander kant:
Die woorde van die regverdige is soos kosbare silwer – Spr. 10:20.
Die regte soort woorde help mense op die regte pad – Spr. 10:21.
Oor die lippe van integriteit-mense kom net goeie dinge –
Spr. 10:31-32.
Die regverdiges se goeie woorde red hulle uit gevaar – Spr. 12:6.
Integriteit mense loop nie heeltyd en spog oor hoe oulik of hoe
slim hulle is nie – Spr. 12:23.
Sagte woorde laat ander se woede gou-gou bedaar – Spr. 15:1.

Integriteit laat jou die woorde wat jy praat mooi kies.
Jy praat opreg, wat jy opreg bedoel. Jy praat versigtig om nie
te verwond nie. Jy praat keurig, om op te bou.
Integriteit is ook in beheer van jou tong en jou woorde!
Ernest