Integriteit kán stilbly, selfs al weet dit beter.
Dit is ‘n kuns om te weet wanneer om te praat en
wanneer nie. Dit gaan nie net oor “tel jou woorde” nie.
Mense met integriteit oefen hulle daarin om God se wil
eerste te stel in hulle lewe. Daarom praat hulle as dit om
die Here se eer gaan, maar as dit om hulle eie regte of
opinies gaan, bly hulle soms stil. Hulle wen nie elke
argument ten alle koste nie. Psalm 141:3:
“Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê.”
Christene moet hulle ook in die dissipline oefen van stilbly.
Die weet wanneer om te praat en wanneer nie. Ons praat
dikwels te veel, en doen te min. Stilbly in ‘n bepaalde konteks
sê dikwels baie meer as woorde. Dade spreek dikwels duideliker
as woorde en word langer onthou.
Franciscus van Assisi het op ‘n dag gesê mens moet om elke
hoek en draai preek, en as dit regtig die dag nie anders kan nie,
moet jy woorde ook gebruik. Merkwaardig. Dit laat ons dink dat
ons te veel praat en te min met dade getuig.
Stilbly op die regte oomblik kan dikwels baie meer waarde hê
as ‘n klomp woorde van waarde. Dink daaroor.
Jy hoef nie by elke siekbed of hartseer mens die een of ander
Goddelike verklaring aan te bied nie. Dit is dikwels beter om
net stil te bly en “daar te wees” vir ander in hulle nood. Jou stilte
en teenwoordigheid is dan die beste troos vir hulle wat ly.
Jy hoef nie alle sondaars met jou woorde te roskam oor hulle
oortredings nie. Veral nie voor ander mense nie. Partykeer is
jou stil voorbeeld die sterkste leiding wat rigting gee.
Jou vriendelikheid, deernis, en begrip is dan die beste getuienis.
Jy hoef nie ‘n opinie oor alles in die lewe te hê nie. Jy hoef ook
nie jou opinie met almal te deel nie. Selfs al maak politici en
teoloë jou soms kwaad, hoef jy nie altyd daarop te reageer nie.
Onthou: Sulke mense moet self verantwoordelikheid neem vir
hulle woorde en dade.
Jy hoef nie almal rondom jou gelukkig te hou met soetsappige
sedelesse of goedkoop troos nie. In die moeilikste en hartseerste
tye kan jy selfs net stil wees en ‘n stille rots wees vir mense wat
verward is. Die Here sal ‘n weg vorentoe baan. Jy weet dit mos.
Jy leef as mens van integriteit vir Hom,
en saam met Hom in die oomblik.
Ernest