Lees Romeine 2:17-24.
Is jy dieselfde persoon agter mense as voor hulle?
Integriteit leef nie met maskers nie. Wie jy in die
openbaar is, is dieselfde mens as wie jy alleen of in stilte is.
Egtheid is lewensbelangrik. Jy is voor en agter mense presies
dieselfde. Jy is nie een mens in die kerk en ‘n ander mens by
jou vriende nie. Jy prys nie die Here op ‘n Sondag en verkul
jou medemens Maandag in ‘n transaksie nie.
Gelukkig verander die Here ons, radikaal! Hy maak ons wat
eens skynheilig was, nou heiliges! Toegewy aan Hom. Hy doen
dit vir jou as jy kies om in sy voetspore te leef. Hy laat jou as
ware nuwe mens in die lig van sy goedheid en genade leef.
Jy kan nou heeltyd en altyd uitleef wie jy werklik in Hom is.
Jy kan jouself in Hom wees! Jy gee nie meer iets voor wie jy
nie is nie, want die Here weet elke dag alles van jou. Jy leef
saam met Hom. Jy mors nie langer jou tyd en geleenthede
vir die Here deur maskers op te sit nie.
Die Here is nou herkenbaar in jou lewe.
Jy probeer ook nie meer om mense te beïndruk nie.
Mense bepaal regtig nie die waarde van jou lewe nie.
Die Here bepaal dit. Net dit weeg nou goud in jou lewe.
Daarom is dit so belangrik dat ons sonder maskers moet lewe,
want ons lewe tog in die deurlopende teenwoordigheid van
die Here! Hou op om iemand anders te wees as die nuwe
mens wie die Here jou maak. Leef oop en eerlik voor God,
en saam met God voor mense.
Ernest