p>Matteus 5:23-24: “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring
en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan
jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou
broer en kom dan terug en bring jou gawe.”

Dit is nie ‘n grap om die minste te wees en om verskoning of
vergifnis te vra nie. Na ‘n groot geveg met iemand anders is dit
dikwels so moeilik. Dit vra groot moed. Maar dit is juis wat mense
met integriteit doen. Mense met integriteit is nooit te trots om ‘n
hand van versoening uit te steek nie. Hulle stap eerste terug.
Hulle staan nie eers terug en kyk wat maak die ander een nie.
Hulle “slaan” ook nie eerste terug nie. Integriteits-mense is die
minste en gaan maak die verhouding reg, ook al weet hulle dat
húlle eintlik reg is, en die ander party verkeerd.

Mense wat die Here se soort integriteit uitleef, gooi nie maklik
handdoek in as hulle eerste pogings tot versoening misluk nie.
Hulle het ‘n “swak” geheue wanneer dit by slegte dinge kom
wat ander mense aan hulle gedoen het. Hulle vergeet gou die
pyn van ‘n belediging, ‘n vloekwoord of ‘n skinderveldtog.
Die rede is dat Christus vir hulle sentraal staan en dat die
fokus op Hom is, en nie op hulleself nie.

Mense met integriteit het sagte salf in hulle hande, vir die
wonde van mense met hulle seer. Hulle bou doelbewus aan
verhoudinge om God daarmee te eer. Hulle woorde en
handelinge is sag en genesend. Hulle praat die taal van
vergifnis.

Om met integriteit in die teenwoordigheid van ander te leef,
beteken jy moet ook kan erken as jy ‘n fout gemaak het. Dit
is meer as net ‘n maklike “verskoning” om die saak agter die
rug te kry. Vra gereeld vergifnis. Maar doen dit opreg om
daarmee te erken as jy ‘n fout gemaak het, of selfs as jy
iemand seer gemaak het, al was jy “reg”.

Ernest